Trooshasies verwesenlik ouma se droom
Hoewel Tannie Anna self die hasies wou brei, het artritis haar verhinder ná ’n leeftyd van harde werk en die grootmaak van vyf kinders. Haar dogter het haar egter belowe om hierdie droom namens haar te vervul.

In ’n daad van liefde wat harte warm maak, het ’n dogter en inwoner van Pretoria ’n spesiale belofte aan haar oorlede ma, tannie Anna Meiring, nagekom. Sy het 100 handgemaakte trooshasies vervaardig en aan Solidariteit Helpende Hand geskenk. Hierdie sagte poenankies sal versprei word aan getraumatiseerde kinders om vertroosting te bied in tye van nood.
Die skenker vertel dat hierdie projek sy oorsprong vind in haar ma se droom om vir minderbevoorregte en mishandelde kinders iets sag en troosryk te gee – ’n “trooshasie” om aan vas te hou wanneer hulle hartseer of alleen voel. Dit simboliseer dat daar altyd iemand is wat omgee. Tannie Anna, wat op 23 November 2021 oorlede is, sou Maandag 95 jaar oud gewees het. Die oorhandiging van die hasies op hierdie spesiale dag dien as ’n gepaste manier om haar nalatenskap te vier.

Hoewel Tannie Anna self die hasies wou brei, het artritis haar verhinder ná ’n leeftyd van harde werk en die grootmaak van vyf kinders. Haar dogter het haar egter belowe om hierdie droom namens haar te vervul. Elke hasie is met soveel liefde gebrei, soos haar ma sou doen.

Die hoop is dat hierdie projek ander gemeenskapslede sal inspireer om ook betrokke te raak. Solidariteit Helpende Hand nooi breiers regoor die land uit – veral ons ouer garde en inwoners van tehuise – om saam te brei. “Die patroon sal beskikbaar gestel word, en ons beplan om hierdie projek ’n jaarlikse instelling te maak.”



