
As jou huis in die mark is, hetsy dit by ‘n eiendomsagentskap gelys is of net op die intenret – of dalk glad nie eens te koop is nie – loop lig vir dié huiskopers!
Voorvalle is onlangs weer in die dorp gerapporteer waar die ou slenter van huiskoop as foefie gebruik is om mense rot en kaal te besteel.
Die vermeende kopers kom kwansuis huis kyk en terwyl jy huis wys, vra een gewoonlik om die badkamer te gebruik, of lei jou aandag op een of ander manier af. Voor jy jou oë kan uitvee is die huiskopers weg en so ook jou juwele of ander waardevolle items waarop hulle hul hande vinnig kon lê terwyl daar “huis gekyk” is. Wees gewaarsku – moenie mense in jou huis toelaat sonder afspraak of sonder dat jy weet wie jy in jou huis toelaat nie.
Maak ook seker jou huishulp, kinders of wie ookal by die huis is, weet as jy mense sou verwag by jou huis hetsy om huis te kyk of herstelwerk te doen.
Misdadigers is jou altyd een voor, so wees waaksaam en maak seker jy meld verdagte persone en voertuie in jou omgewing by jou plaaslike polisiestasie aan.



