Local newsNews

Borg is nie skuldigbevinding nie: So werk dit in SA howe

Die toestaan van borg aan 'n beskuldigde is nie 'n skuldigbevinding nie, maar 'n poging tot 'n waarborg om die beskuldigde weer in die hof te kry

Van die beskuldigdes wat na ‘n lang en uitgebreide ondersoek in Desember in Parys deur die Valke in hegtenis geneem is op klagte van dwelmhandel, het verlede week weer voor die landdroshof in Parys verskyn. “Die saak is uitgestel tot 11 Februarie,” het Valke-woordvoerder luitenant-kolonel Zweli Mohobeleli vandeesweek bevestig.

Stanley Itesium (38), Peter Owiredu (46), Sylvestor Nwite (33) en Rashied Hendricks (24 )staan elk tereg op vier klagtes, en Ndibusi Ignatius Ihenachu en John Okori (36) op vyf klagtes. Borgtog is reeds deur die hof aan van die verdagtes toegestaan.

Ontevrede gemeenskapslede het egter sedert die beskuldigdes die eerste keer voor die hof verskyn het vir formele borgaansoeke, ge-eis dat hulle nie sal borg kry nie.

Ontevrede gemeenskapslede wat met ‘n vorige hofverskyning voor die hofgebou in Parys byeen gekom het om te vra dat borg nie toegestaan word aan die beskuldigdes in ‘n dwelmhandel saak.

 

Die Suid-Afrikaanse regstelsel bepaal egter dat elke beskuldigde in die hof die reg het om op enige stadium voor skuldigbevinding, aansoek om borg kan doen. “Die toestaan van borg aan ‘n beskuldigde is nie ‘n skuldigbevinding nie, maar ‘n poging tot ‘n waarborg om die beskuldigde weer in die hof te kry,” verduidelik prokureur Stefan Scheepers.

By die publiek is daar dikwels onsekerheid oor wat borgtog is, en wanneer borgtog toegestaan word.

Scheepers, wat nie die prokureur van rekord vir die beskuldigdes is nie en derhalwe geen betrokkenheid by die saak het nie, gee duidelikheid oor die kwessie:
Hy sê dit is belangrik om te onthou, dat jy onskuldig is, totdat jy deur die hof skuldig bevind word.

Die onus berus nie by die beskuldigde om sy/haar onskuld te bewys nie, maar by die staat om skuld te bewys. Die maatstaf vir skuldigbevinding is hoër in ‘n kriminele hof as in ‘n siviele hof. In ‘n kriminele hof moet skuld bo alle redelike twyfel bewys word, in teenstelling met die siviele hof waar die oorwig rus op die waarskynlikheid dat dit die omstandighede was.

“Artikel 50 (6) van die Strafproseswet 51 van 1977 handel met die reg van elke beskuldigde in die hof om op enige stadium voor skuldigbevinding, aansoek te doen om borg,” sê Scheepers.

Hy sê verder die Suid-Afrikaanse reg klassifiseer misdrywe van Skedule 1-6, en sluit faktore wat oorweeg sal word wanneer ‘n borgaansoek voor die hof gebring word, die volgende in:
* Is die beskuldigde ‘n vlugrisiko?
* Sal dit ‘n gevaar inhou vir openbare orde sou die beskuldigde op borgtog vrygelaat word?
* Is daar die risiko dat die beskuldigde met die staat se getuies kan inmeng?
* Is getuienis in die hof aangebied ten opsigte van dreigemente teenoor enige betrokkenes by die saak deur die beskuldigdes voor die hof?
* Is daar die moontlikheid dat die beskuldigde met bewysstukke kan peuter.
* Het die beskuldigde vorige veroordelings?
* Is die beskuldigde tans uit op borgtog of parool weens ander oortredings?
* Het die beskuldigde bates, laste en/of ‘n inkomste.

Al die bogenoemde faktore moet deur die voorsittende beampte in ag geneem word, en die besluit oor borg moet in belang van geregtigheid geneem word. Bepaalde borgvoorwaardes sal geld.

Borgvoorwaardes kan insluit om op bepaalde dae en tye by die polisiekantoor aan te meld, om die vasgestelde borgbedrag te betaal by die hof, en om nie met staatsgetuies in te meng nie. Die beskuldigde word dan ook gewaarsku om teenwoordig te wees met die volgende hofverskyning.

“Die borgbedrag is nie ‘n aanduiding van hoe skuldig of minder skuldig die beskuldigde is nie,” sê Scheepers. Die bedrag word uitsluitlik vasgestel volgens die beskuldigde se finansiële vermoë. In sommige gevalle sal deel van die vonnis kan insluit dat die borg wat betaal is, verbeur word.

Sou ‘n beskuldigde nie opdaag vir ‘n hofverskyning nie, word borggeld ook verbeur.

* Die Parys SAPD het in Desember 19 verdagtes vir dwelmverwante sake gearresteer, asook tien onwettige immigrante.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button