Waterwerke kontrakteur die trekpas gegee
'n Nuwe kontrakteur moet nou aangestel word in terme van noodverkrygingsregulasies vervat in munisipale wetgewing.
Herstel en opgraderingswerk by Parys se watersuiweringsaanleg het tot ‘n stilstand gekom nadat Setshabelo Trading, die kontrakteur wat in 2023 aangestel is, se kontrak beeïndig is. Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder, dr. Futhuli Mothamaha, het bevestig dat raadslede van die munisipaliteit reeds twee weke gelede met die laaste raadsitting oor die besluit ingelig is na herhaalde waarskuwings aan die kontrakteur oor swak prestasie.
Mothamaha het gesê dat ‘n nuwe kontrakteur in die week aangestel sou word ingevolge noodverkrygingsregulasies in munisipale wetgewing wat die munisipaliteit toelaat om ‘n kontrakteur sonder die gebruiklike tenderprosesse aan te stel. Dit was met Gazette se druktyd egter onduidelik of ‘n nuwe kontrakteur gebruik gaan maak van die huidige subkontrakteurs wat op die aanleg gewerk het.
Die AfriForum-tak in Parys het die afgelope week ook ‘n dringende skrywe aan die Ngwathe-munisipaliteit en die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gerig oor die situasie by die suiweringsaanleg, en sê in ‘n verklaring dat die kontrakteur volgens die organisasie se inligting glo bankrotskap verklaar en die terrein verlaat het.
AfriForum sê hy is bekommerd dat die verduidelikings die munisipaliteit se onvermoë om sy finansiële verpligtinge na te kom, probeer verdoesel, en dat AfriForum daarom ‘n dringende vergadering met die munisipaliteit en DWS aangevra het om die feite te kry, en ‘n uiteensetting oor die stand van sake by die suiweringsaanleg. Al die subkontrakteurs het sessie-ooreenkomste met die munisipaliteit gehad, en is mondelings in kennis gestel dat die kontrakteur se dienste beëindig is, is gesê.
Die munisipaliteit het die afgelope maande herhaaldelik gesê dat werk by die suiweringsaanleg sloer weens talle onvoorsiene probleme wat opduik soos wat herstelwerk gevorder het. Die munisipale bestuurder het egter Donderdag gesê dat hy hoop die projek dalk teen Junie voltooi kan word.
Met die aanvanklike bekendstelling van die projek in Augustus 2023 is gesê dat die opknapping van die watersuiweringsaanleg teen ‘n koste van R66m, wat deur die regering befonds word, gelyklopend met die vervanging van ‘n 15km asbespyplyn hoofsaaklik in die middedorp van Parys en die ouer gedeelte van Tumahole gedoen sou word.
Tydens die inligtingsessie aan raadslede en die media is toe gesê dat die projek agt maande sou neem om te voltooi. Meer as ‘n jaar later is werk aan die nuwer gedeelte van die aanleg steeds volgens bronne nog net na raming 60% voltooi, en moet nog heelwat elektriese en meganiese werk, en werk aan van die filters gedoen word. Werk wat afgehandel is in die ouer gedeelte van die aanleg is wel in Desember aan die munisipaliteit oorhandig.
Toe was 95% van herstelwerk in dié deel van die aanleg glo voltooi, asook sowat 90% van werk aan sandfilters, ook in die ouer gedeelte van die aanleg. Mikrobiologiese toetse wat in Desember gedoen is, het gewys dat selfs sonder die filters waterkwaliteit by die aanleg reeds drasties verbeter is met die werk wat gedoen is.
Met vorige gemeenskapsbesoeke aan die aanleg kon ook gesien word dat die werk van die subkontrakteurs van hoë standaard was, en was die hoop dat die dorp se jarelange waternood uiteindelik tog verlig sou kon word wanneer die werk voltooi sou wees, en mits die munisipaliteit die aanleg nougeset en met die nodige en regte doserings chemikalieë kon bestuur.
Met ‘n nuwe kontrakteur wat aangestel moet word is daar opnuut vrese oor of die dorp uiteindelik verligting vir sy jarelange waternood gaan kry, en vrae oor hoeveel van die toegekende R66m reeds op die projek sedert 2023 spandeer is.
Voor die toekenning van die projek waaroor DWS ‘n wakende oog moes hou, is miljoene in die verlede al toegeken vir onder meer herstel van filters by Parys se watersuiweringsaanleg. Tog het die dorp na jare steeds knaende en daelange waternood. Die afgelope week weer was talle pypbarste die rede dat inwoners vir dae sonder water was selfs met die derde verhelderaar wat verlede week in werking gestel is.
‘n Facebook-plasing oor waterpompe en motors van die Ngwathe-munisipaliteit wat na maande steeds by ‘n kontrakteur staan en na bewering direk bygedra het tot twee weke se waternood vir die dorp oor Desember is ook die week wyd gekritiseer deur inwoners.

Die opdrag vir die herstel van die pompe en motors is mondelings deur die munisipale bestuur aan Vimasec gegee in die teenwoordigheid van twee AfriForum verteenwoordigers tydens ‘n oorsigbesoek aan die watersuiweringsaanleg einde 2024 is vandeesweek deur beide die kontrakteur en AfriForum bevestig.
Van die herstelwerk is op ‘n noodbasis gedoen, terwyl ander herstelwerk onder waarborg langer geneem het. Die herstel van die pompe en motors vir opgaardamme 3 en 4 was soos ooreengekom in Desember voltooi en fakture ingedien, sê die kontrakteur.
Toe die nood egter in Desember druk, en probleme met die twee opgaardamme se pompe en motors ondervind is, het die munisipaliteit pleks daarvan om die uitstaande sowat R500 000 aan Vimasec vir die herstel van die pompe en motors te betaal wat die krisis glo binne ‘n dag kon oplos, na bewering van ander kontrakteurs gebruik gemaak om die twee opgaardamme se pompe aan die loop te kry of te vervang.
Teen Dinsdag het Vimasec gesê nog geen betaling vir die herstel van die pompe en motors is ontvang nie. Die kontrakteur sê die munisipaliteit vereis dat fakture nie per epos nie, maar per hand ingedien moet word, maar raak dit telkens weg by die munisipaliteit. Die kontrakteur sê ook hoewel die opdrag vir die herstel van die pompe en motors mondelings gegee is, bestelnommers vir al die pompe en motors deur die munisipaliteit voorsien is. Daar is ook geteken vir ontvangs van die fakture.
Die waarde van die pompe en motors wat by die kontrakteur staan beloop ongeveer R3m.
Gazette het navraag oor die bewerings oor die pompe en motors by die munisipale bestuurder gedoen wat onderneem het om ondersoek in te stel.
AfriForum sê die doeltreffende bestuur van Parys se wateraanleg is ‘n noodsaaklikheid, en as die munisipaliteit nie in staat is om hierdie basiese verpligting na te kom nie, moet ‘n provinsiale uitvoerende gesag intree.
Gazette het vroeër berig dat die rugsteun kragopwekker by Parys se wateraanleg waarvoor R3m toegeken was vir die bou en installering daarvan, nou blyk onvoldoende te wees om die aanleg van krag te voorsien.



