Local newsNews

Tragies: Liggame is dié van vermiste polisiekonstabels

Ons innige medelye met die families van die oorledenes.

Die liggame van die drie Vrystaatse polisiekonstabels wat sedert Woensdag vermis is, is in die Hennopsrivier gekry tesame met nog twee liggame van wie ook ‘n administratiewe klerk van die Lyttleton-polisiestasie.

Die hartseer nuus is vanmiddag deur generaal Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris bevestig.

Masemola het gesê dat dit ‘n baie moeilike ses dae vir lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die betrokke families was terwyl onverpoosd gesoek is na die vermiste knst. Keamogetswe Buys, knst. Boipelo Senoge en knst. Cebekhulu Linda.

Die hoë vlak ondersoekspan se soektog is uitgebrei na die Gauteng, Vrystaat en Limpopo provinsies om alle moontlike leidrade op te volg tussen die Grasmere tolhek op die N1 waar die polisiekonstabels die laaste keer gesien is, en verby die Buccleugh-wisselaar tot by John Voster-rylaan.

Maandag het die soektog die ondersoekspan gelei na die Hennopsrivier by Centurion en is die hulp van hommeltuig vlieëniers, die kubermisdaad eenheid, die Valke, die SAPD en Gauteng Verkeer Lugvleuel, Crime and Counter Intelligence, en die Bidvest Protea Coin Lugvleuel ingespan.

Motordele van wat geglo is deel kon wees van die VW Polo waarmee die konstabels gery het ten tyde van hul verdwyning, is langs die N1 gekry, en het dit die span na die rivieroewer gelei waar n Renault Kangoo paneelwa gevind is.

Die polisie en Tshwane duikers is onmiddellik by die soektog betrek en is twee liggame Maandag in die rivier gekry. Die een was die bestuurder van die Renault Kangoo paneelwa wat verbonde was aan die Lyttleton polisiestasie. Die tweede liggaam is geïdentifisser as dié van knst. Senoge. Omdat dit egter toe al donker was, moes die soektog eers laat vaar word.

Vanoggend is die derde liggaam – dié van knst. Linda, gekry. ‘n Vierde erg ontbinde liggaam is ook uit die rivier gehaal wat nog nie geïdentifiseeer kon word nie. Laat vanmiddag is die vyfde liggaam – dié van knst. Buys gekry.

Masemola het bevestig dat die VW Polo nog nie gevind is nie en dat die ondersoek steeds voortduur.

Twee van die polisiekonstabels wie se liggame vanmiddag in die Hennopsrivieri gevind is.

“Ons kan nie op hierdie stadium spekuleer oor die presiese omstandighede wat daartoe gelei het dat die liggame in die rivier gekry is nie – of dit ‘n ongeluk was aldan nie – ons ondersoek sal dit bepaal sodra die motor gevind is,” het Masemola gesê.

Masemola het die taakspan betrokke by die ondersoek bedank vir hul onverpoosde toewyding in die soektog na die drie polisielede. Masemola het ook bevestig dat die ondersoek sal voortgaan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button