Die pad saam met Parkinsons is ‘n vreemde een
"Ek sou sê ek kan omtrent 10% doen wat ek wil en 90% nie, maar opgee gaan ek nie"
Wanneer die medikasie werk, sê Conrad van der Merwe, dan is sy brein ‘aan,’ maar wanneer die medikasie uitwerk, dan sukkel hy selfs om sy voete op te tel om te loop.
Conrad is in 2020 met Parkinson se siekte gediagnoseer.
Die diagnose was half ‘n verligting nadat hy reeds vir maande gesukkel het met sy een arm wat hom probleme gegee het. “Die dokter en spesialis het vir my gesê dis ‘n senuwee wat vasknyp êrens, maar my simptome het vererger en ek het vermoed dis Parkinsons.”
Dit was eers nadat hy by ‘n spesialis wat in die siekte spesialiseer uitgekom het, dat sy vermoede bevestig is.
Conrad was maar 46 jaar oud en die meeste dokters het gedink hy is te jonk om Parkinsons te hê.
Parkinson se siekte is wanneer jou brein nie meer genoeg van die goedvoelhormoon, dopamien, vrystel nie. Die hormoon help ook om boodskappe van die brein na die res van die senuweestelsel te stuur. Wanneer daar nie genoeg is nie, kom die boodskappe nie by jou ledemate uit nie.
Alhoewel Conrad tans op goeie medikasie is, behandel dit net simptome. “Medikasie help ook net vir ongeveer sewe jaar dan is daar niks verder wat kan help nie, behalwe miskien ‘n breinoperasie waar hulle nodes in jou brein plant om konstant boodskappe deur te stuur na die senuweestelsel,” beduie hy. Gelukkig werk sy medisyne op die stadium nog.
“Die spesialis het gesê ek moet my lewe geniet, dit rustig vat en baie oefening doen. Stres en dopamien gaan nie saam nie. Hoe meer jy stres, hoe minder dopamien word vrygestel.”
Vir Conrad was die aanpassing moeilik, want hy het ‘n baie stresvolle werk as senior IT spesialis gehad, en was gek oor enige adrenalien-gelaaide aktiwiteite van skubaduik en vryval uit ‘n vliegtuig tot vierwielmotorfiets (quad bike) ry. Hy was juis in 2010 die Senior Off Road Quad kampioen.
Nou moet hy alles stadiger doen, en hy moes die werk waarvoor hy so lief was opgee.
Alhoewel hy en sy vrou, Chaney, nog fietsry en deelneem aan die parkrun, gaan dit baie moeiliker.
Die een ding wat die gesin nog saam doen is ringtennis.
“Ons dogter, Leonie, het by die Parys-klub aangesluit saam met van haar vriende. Die gedagte was dat ons haar net sou vat en vir haar wag, maar ek hou steeds nie van stilsit nie,” verduidelik hy.
Dit was nie lank nie toe begin hy en Chaney saam oefen en neem saam aan ‘n klubkampioenskap deel.
By die SA toernooi was hy sommer eerste in die C-afdeling. “Dit gaan soms moeilik, ek mik in een rigting en die ring trek in ‘n ander. Die boodskap tussen my brein en arm is net nie daar nie. Of soms skakel my brein ‘af’ wanneer ek speel, dan moet ek eers ophou.”
Conrad was nog altyd positief van geaardheid, maar hy moet nou ekstra hard konsentreer om positief te bly.
“Party dae gaan dit goed en dan kan ek meer doen, ander dae pen die siekte my vas en dan kan ek myself nie eens aantrek nie.”
Hy kan ook nie meer alleen bestuur nie. Chaney is maar altyd by, en dan kan hy ook net ‘n klein entjie bestuur.
“Ek sou sê ek kan omtrent 10% doen wat ek wil en 90% nie, maar opgee gaan ek nie. Ek geniet elke oomblik wat ek het saam met my gesin en is dankbaar vir die rustige omgewing waarin ons kan bly.”



