Nat lande laat boere slim planne maak
Vir boere in die Parys-distrik was April vanjaar die natste wat die afgelope 50 jaar gesien is.
Saaiboere in die Vrystaat het swaar getrek die afgelope maand met lande wat té nat was om te kon oes. In die Parys-distrik was dit een van die natste April maande nog die afgelope 50 jaar, maar wanneer die nood druk, maak ‘n boer ‘n plan.
Vir Riaan Botha wat as voorman vir CWS Stroopkontrakteurs en Vervoer werk, het die plan om ekstra wiele aan die stropers te sit, soos ‘n bom gewerk. Pleks van die gebruiklike vier wiele op ‘n stroper is aanpassings gemaak om tien wiele in totaal op ‘n stroper te hê.


Danksy die plan is geoes met ‘n bo-gemiddelde sonneblom en soja-oes wat op die plaas sowat 14km buite Parys aan die Vredefort-kant van die Weiveld-pad afgehaal is. Wat vanjaar in die lande gesien is, was uiterste toestande, sê boere. Elkeen maak maar hul eie planne, maar sover werk die ekstra wiele die beste, en het baie al kom raad vra by Botha.

Om die ekstra wiele op te sit jaag boere tot R80 000 per stroper uit die sak maar as die oes moet af, moet daar plan gemaak word.



