Bykans helfte van Suid-Afrikaners afhanklik van maatskaplike toelaes
Net 4% van begroting gaan vir ontwikkeling.

Ongeveer 45% persent – bykans die helfte van Suid-Afrikaners ontvang maatskaplike toelaes. Dit het aan die lig gekom uit die voorlegging van die Department van Maatskaplike Ontwikkeling se begroting wat deur minister Sisisi Tolashe, Donderdag aan die Nasionale Vergadering voorgelê is.
Tolashe het tydens haar voorlegging genoem altesaam R284 miljard is deur haar departement vir die nuwe boekjaar begroot om maatskaplike toelaes aan meer as 27 miljoen Suid-Afrikaners te betaal.
Die departement se totale begroting vir die nuwe boekjaar beloop R294 miljard, waarvan 96% aan
die ontvangers van maatskaplike toelaes gaan. Dit beteken slegs 4% sal aangewend word vir enige vorm van ontwikkeling of beplanning.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê in die organisasie se kommentaar dit is ’n resep vir ’n ramp en nie herstel nie. “As jy die plan bou om noodverligting te prioritiseer, gaan jy altyd net nood hê om te verlig. As jy egter die plan bou om ekonomiese groei en werkskepping te prioritiseer, dan begin jy nood permanent uitroei,” sê Noëth.
“Wat ons eintlik sien is ’n welsynstaat wat al hoe minder ’n ontwikkelende staat is. As die regering
werkskepping en ontwikkeling as sekondêr hanteer, dan word dit ook maar net sekondêr bereik en
dan bly die toekoms maar net nóg ’n toelaag verder,” het hy gesê.
Noëth sê armoede gaan nie oorwin word deur mense van almoese te laat leef nie. “Ons gaan dit
oorwin deur mense in te skakel in werk, gemeenskap, en waardes. Toelaes het ’n plek, maar dit kan
nie die hele plan wees nie.”
Volgens Noëth het Suid-Afrika nie nog toelaes nodig nie, maar planne wat werkskepping,
ekonomiese groei en beleide behels wat rigting gee, nie net verligting nie. “Dit is die enigste manier
waarop ons ’n toekoms kan bou en afhanklikheid agterlaat,” sluit hy af.



