Local newsNews

Bek-en-klou : Verantwoordelikheid en waaksaamheid die sleutel

Die verspreiding van Bek-en-klouseer in beide die Vrystaat en Noordwes provinsies wek kommer en is onderrapportering en gebrekkige en misleidende inligting van die groot probleme wat ondervind word.

Wanneer vee-eienaars letsels van bek-en-klouseer of simptome daarvan by hul vee sou opmerk, moet dit onmiddellik aangemeld word, en vereis protokol dat jy jou bure daarvan in kennis stel. Onderrapportering en trae rapportering het ‘n negatiewe impak op die beheer van die siekte omdat dit ‘n hoogs aansteeklike virale siekte is wat soos ‘n veldbrand nie net in kuddes nie, maar ook na buurplase kan verspei as dit nie beheer word nie.

Die gevolge van die siekte is vernietigend vir veral melkerye en stoetplase, maar ook sou dit onder buffeltroppe versprei.

Tans is daar kommer oor verspreiding in die Parys en Vredefort-distrikte met buurdorpe aan beide die Vrystaat en Noordwes kant wat gevalle aangemeld het.

Volgens die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling se jongste syfers is daar 56 bevestigde gevalle in nege uitbrekingsgebiede, insluitend Kroonstad, Viljoenskroon/Vredefort (4 nuwe gevalle), Deneysville, Cornelia/Frankfort, Heilbron, Edenville, Parys, Sasolburg en Odendaalsrus.
Weens ‘n agterstand van tussen 8 en 9 weke (ongeveer 35 000 monsters) vir toetsuitslae van die staat, gee dié syfers  nie ‘n juiste prentjie van die omvang van die krisis ook vir boere in Vredefort en Parys nie.

Aan Vrystaat-kant is daar nou twaalf gevalle in die gebied tussen Tumahole, Parys, Schoemansdrift en Vredefort bekend, terwyl aan Noordwes-kant gevalle reeds op 23 plase in ‘n 15km radius gerapporteer is in die afgelope twee weke.

Vir boere in die Schoemansdrif- en Venterskroon-omgewing is daar ‘n wesenlike bedreiging met die oorspoel van gevalle van beide Noordwes- en Vrystaat-kant.

Goeie buurmanskap, verantwoordelike optrede en samewerking kan in die krisis nie genoeg beklemtoon word nie, sê dr. Bastiaan Fouché wat nou saamwerk met staatsveeartse in die bekamping van die siekte.

Hoekom die bekommernis oor bek-en-klouseer?

Bek-en-klouseer het ‘n groot finansiële impak op vee-eienaars waar gevalle bevestig is, asook vir omliggende plase wat onder voorsorg kwarantyn geplaas word.

Wat is Bek-en-klouseer

  • Bek-en-klouseer kom voor by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke. Vrektes weens die siekte word in minder as 2% van gevalle gesien.
  • Bek-en-klouseer is nie nuut in Suid-Afrika nie, en is endemies in die Kruger wildtuin-area, maar ook in Suid-Afrika se buurland, Botswana.
  • Die siekte kom ook by wild voor, veral buffels wat draers kan wees met geen kliniese simptome vir tot 24 maande. Wat belangrik is om te weet is dat hoewel buffels draers van die siekte is, hulle nie die oorsaak is daarvan in Bek-en-klou vrye areas nie. Inteendeel – hulle moet juis teen die siekte beskerm word omdat hulle nie ge-ent kan word nie, het dr Bastiaan gesê. Uitbrake in buffeltroppe kan vernietigend wees vir veral Suid-Afrika se toerismebedryf wat onomkeerbaar sal wees omdat dit ‘n endiese siklus sal veroorsaak.
  • SAT2 is die serotipe van die siekte wat tans in die grootste deel van Suid-Afrika gesien word. Die siekte kom wêreldwyd voor maar is jare gelede onder beheer gebring. Derhalwe is daar min inligting bekend oor uitbrake wat nou gesien word omdat die boerdery en veeartsenybedryf 40 jaar laas met uitbrake van dié omvang gekonfronteer was.
  • Naas buffels is bek-en-klouseer ook ‘n groot probleem onder varke maar is nog geen varke met die huidige uitbraak gediagnoseer nie.
  • Daar was ook nog weinig uitbrake onder skape en bokke.

Simptome:

* Letsels word gesien waar wrywing is, byvoorbeeld op die vel en slymmembrane by die hoewe, mond en spene van melkkoeie.

* Naas die sere in die bek en aan die pote, word oormatige afskeiding van speeksel gesien, hoë koors en beeste wat sigbaar ongemaklik en  geïrriteerd is met hul tong weens die sere in die bek (anders as die normale rolbeweging van die tong wanneer beeste herkou). Letsels word tans meestal by die bek en nie by die pote gesien nie.

* Mastitis word wel nou gesien omdat daar kallers is.

Bek en klouseer tipiese sere in beeste se bekke
Die sere in beeste se bekke wat kenmerkend is van Bek-en-klouseer
Hoe effektief is entstof:

Entstof is baie effektief en beperk verdere verspreiding deur letsels en onderdrukking van moontlike draerstatus. Na toediening kan ‘n verbetering in die bees se toestand so gou as ‘n dag na enting gesien word. Hersteltyd is ongeveer twee weke.

Hoekom nie entstof beskikbaar maak vir boere nie?

Suid-Afrika was geregistreer as Bek-en-klou vry met enting. Tans is die status Bek-en-klou met uitbraak en enting. Eers wanneer die siekte endemies verklaar word, kan daar in terme van wetgewing entstof plaaslik vervaardig word, en privaat toegedien word.
Entstof word van Botswana ingevoer  en slegs deur die staat toegedien omdat dit ‘n staatsbeheerde siekte is. Inenting word op indeksplase (waar positiewe gevalle bevestig is) gedoen, asook waar risiko groot is soos op melkplase.
Die Vrystaat het voldoende entstof en reaksietyd van die staat vir toetsing en enting is goed.

Risikofaktore vir kuddes:

* Neus-tot-neus kontak
* Dierspeeksel en misbesoedelde voertuie, toerusting en klere.
* Werkers of mense wat die afgelope vyf dae in direkte kontak  met positiewe diere was
* Intensiewe veeboerdery, insluitend suiwelplase, voerkrale en varkplase.

Geen effek op mense:

* Vleis en melk van besmette beeste hou geen gevaar vir mense in nie. Wanneer ‘n besmette dier geslag word, moet die kop en pote egter vernietig word.
* Mense kan nie bek-en-klouseer kry nie, maar kan dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button