Local newsNews

AfriForum waarsku Ngwathe oor voortgesette rioolbesoedeling

AfriForum eis nou duidelike tydraamwerke van die munisipaliteit om die krisis aan te spreek.

AfriForum het gister (23 April) weer formeel by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit aangedring op dringende optrede teen die voortdurende rioolstorting by Die Sandgat in Parys, waar rou riool direk in die Vaalrivier invloei. Die burgerregte organisasie sê die probleem duur reeds ’n geruime tyd voort en is al verskeie kere onder die munisipaliteit se aandag gebring, sonder noemenswaardige verbetering.

Volgens AfriForum hou die situasie nie net ’n risiko in vir die omgewing nie, maar bedreig ook die gesondheid van inwoners en gebruikers van die Vaalrivier stroomaf.

“Dit is onaanvaarbaar dat rou riool steeds vrylik in een van Suid-Afrika se belangrikste waterbronne invloei, terwyl die munisipaliteit versuim om daadwerklik op te tree,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier.

AfriForum wys verder daarop dat die munisipaliteit se gebrek aan optrede in stryd is met nasionale wetgewing wat vereis dat waterbronne beskerm en besoedeling voorkom moet word. Tog blyk dit dat die munisipaliteit eerder voortgaan om teen hofuitsprake te appelleer as om volhoubare oplossings te implementeer, het Pretorius gesê.

Benewens die rioolkrisis het AfriForum ook sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan stoptekens by talle kruisings in Parys. Die organisasie sê hy het stoptekens aan die munisipaliteit geskenk, maar dat dit nie opgesit is nie.

In die brief wat AfriForum aan die munisipaliteit gerig het, versoek die organisasie dat daar dringend duidelike tydraamwerke gegee word vir ’n permanente oplossing van die rioolprobleem; en vir die oprig van stoptekens by geïdentifiseerde kruisings wat ‘n gevaar inhou vir motoriste.

Die foto is op 21 April deur AfriForum by die Sandgat in Parys geneem waar rioolwater uit 'n verstopte mangat in die Vaalrivier inloop. Foto: Verskaf
Die foto’s is op 21 April deur AfriForum by die Sandgat in Parys geneem waar rioolwater uit ‘n verstopte mangat in die Vaalrivier inloop. Foto: Verskaf

AfriForum waarsku ook dat verdere stappe oorweeg sal word indien die munisipaliteit nie spoedig optree nie.

“Gemeenskappe kan nie langer die gevolge van swak bestuur en gebrekkige dienslewering dra nie. AfriForum sal aanhou druk toepas totdat daar werklike verbetering is,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button