March and march: Nog geen verdere optrede bevestig
Vanoggend se protesoptrede in Parys het sonder voorval verloop.
‘n Optog waaraan sowat 150 mense vanoggend in Parys deelgeneem het as deel van die landwye protesoptrede teen onwettige immigrante, het sonder voorval in die dorp verloop, maar is ‘n spaza-winkel laat vanmiddag in Tumahole geplunder.
Optoggangers waaronder ook kinders, het vroegoggend van die Mbeki-woonbuurt af beweeg en was om 11:00 in Grensstraat vanwaar daar tot in Parys se hoofstraat beweeg is, en vandaar via Philipstraat na die dorp se taxi-staanplek waar daar ‘n tyd vertoef is.

‘n Sterk polisieteenwoordigheid is deurgaans gesien met lede van beide Parys en Tumahole SAPD, die Distriks Operasionele Beheersentrum, Openbare Orde Polisiëring, Ngwathe Verkeer, Ngwathe Brandweer & Nooddienste. en Rampbestuur, wat effektief en professioneel hul taak verrig het. Verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander rolspelers het ook gehelp om ‘n oog te hou.
Parys se sakegebied was deurgaans stil met sommige besighede wat vandag nie hul deure oopgemaak het in die lig van die beplande protesoptrede. Min beweging is ook in die strate gesien.




Daar was teen vanmiddag nog geen bevestigde berigte in Parys van enige beplande optrede vir Woensdag 1 Julie nie, en het die polisie mense versoek om enige insidente wat verband sou hou met die protesoptrede, onmiddellik te rapporteer.
Die polisie sal voortgaan om ‘n wakende oog te hou en is mense aangeraai om veilig en paraat te bly.



