Dis net ‘n wonderwerk: Omgeeharte kom tot Mira se redding
Sy was baie siek en ondervoed, vermoedelik ná maande se rondswerf sonder 'n heenkome, maar met 'n ongelooflike wil om te oorleef.
Mira is kort vir miracle, want die storie van hierdie jong bokserkruis-tefie is inderdaad ‘n wonderwerk.
Mira, wat sowat ‘n jaar oud is, het op 7 Junie by die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) beland.
Sy was baie siek en ondervoed, vermoedelik ná maande se rondswerf sonder ‘n heenkome, maar met ‘n ongelooflike wil om te oorleef.
Sy is die eerste keer op 1 Junie deur ‘n lid van die Parys Area Vermiste Dieregroep opgemerk. Danksy die uitstekende samewerking tussen lede van die groep het nog een van die groeplede daarin geslaag om ‘n foto van haar te neem. Melinda Lessing het haar uiteindelik in die Oudewerfpark-omgewing gevind.

Foto: Liezl Scheepers
Mira (die naam wat die vroue van die dieregroep aan haar gegee het) was bang en verwilderd, maar Melinda, ook ‘n lid van die groep, het haar vertroue geleidelik gewen en die DBV-personeel ontbied om haar te kom haal.
Sy is deur ‘n veearts behandel en daarna met liefdevolle hande en omgeeharte by die DBV versorg.
Vandag is Mira ‘n pragtige, gesonde en lewenslustige hond.
Nou moet daar dringend vir haar ‘n tuiste gevind word.
Omdat daar vermoed is dat Mira waarskynlik langs die R59 verlore geraak het, is daar sedert sy gevind is, baie moeite gedoen om haar eienaars op te spoor. Gazette het selfs ‘n Facebook-plasing gedeel in die hoop dat haar eienaar na vore sou kom.
Hoewel haar eienaar nie opgespoor is nie, was die reaksie op die plasing verstommend. Dit was veral skokkend om te sien hoeveel honde sedert Desember juis in die omgewing van die R59 vermis geraak het. Een van die aangrypendste reaksies was dié van ‘n dame wie se klein Dobermann ná ‘n ongeluk op die R59 steeds vermis word.
Was dit nie vir Melinda en die DBV wat hulle oor Mira ontferm het nie, sou haar storie waarskynlik heeltemal anders geëindig het.
As jy vir Mira ‘n liefdevolle huis kan bied, skakel die DBV by 072 894 4061 vir meer besonderhede oor hoe om haar aan te neem.
Die belangrikste om te onthou wanneer ‘n hond verlore raak is om:
- Jou plaaslike DBV en veeartse in die omgewing te skakel met die besonderhede van die hond, en jou besonderhede sou die hond gevind word.
- Maak seker jou hond dra ‘n naamplaatjie of het ‘n mikroskyfie waarmee die hond geïdentifiseer kan word.
- Die DBV het jou nodig
- Die DBV doen werk van onskatbare waarde in jou gemeenskap, maar ook in omliggende dorpe en ontvang geen befondsing. Die tak is uitsluitlik afhanklik van ‘n gemeenskap om te kan voortbestaan.
- Parys DBV het die volgende nodig
* Katsand
* Jeyes Fluid
* Speelgoed vir katte en honde
* Waspoeier vir die diere se beddegoed
* Hondekomberse
* Jy kan ook ‘n geldelike skenking vir die DBV maak by: Parys SPCA, Standard Bank, tjekrekening 040 947 882. Stuur die bewys van betaling na 072 594 4061.



