Local newsNews

Stabiele energievlakke: Kyk na eetpatrone, voedselkwaliteit en glukemiese indeks

Gekontroleerde bloedsuikervlakke dra by tot 'n gesonde liggaamsgewig en kan help voorkom dat jy onnodig gewig optel.

Ervaar jy deur die dag wisselende energievlakke – dalk moegheid in die middel van die oggend, ‘n ‘energiedip’ laatmiddag, of sukkel jy om te konsentreer? Voeding speel ‘n baie belangrike
rol in die handhawing van stabiele bloedsuikervlakke en volgehoue energie.


Moegheid en wisselvallige konsentrasie is nie noodwendig slegs die gevolg van lae bloedsuiker nie, maar word dikwels beïnvloed deur ‘n kombinasie van voedselkwaliteit en -samestelling, hidrasie, lang vasperiodes, leefstylgewoontes en voldoende slaap.


Gekontroleerde bloedsuikervlakke dra by tot ‘n gesonde liggaamsgewig en kan help voorkom dat jy onnodig gewig optel.


Dink so daaraan: Jou liggaam is soos ‘n motor. Die kwaliteit van die brandstof is net so belangrik soos die hoeveelheid. Die doel is om die enjin skoon en doeltreffend te laat werk.


Net soos ‘n motor gereeld brandstof nodig het om ‘n lang reis te voltooi, het jou liggaam gereelde voeding nodig om optimaal te funksioneer.

Illustrasiefoto verskaf
Illustrasiefoto verskaf


Wanneer ons voedsel eet wat koolhidrate bevat, soos vrugte, groente en stysel, breek die spysverteringstelsel dit af tot glukose. Glukose is ‘n eenvoudige suiker en die liggaam se
belangrikste bron van energie. Soos glukosevlakke in die bloed styg, stel die pankreas insulien vry.

Insulien dien soos ‘n sleutel wat die deur na die liggaamselle oopsluit sodat
glukose vanuit die bloedstroom die selle kan binnegaan. Daar word dit gebruik om energie te verskaf aan die brein, hart, spiere en ander organe.


Wanneer daar meer glukose beskikbaar is as wat die liggaam onmiddellik benodig, word dit omgeskakel na glikogeen en in die lewer en spiere geberg. Hierdie voorraad dien soos ‘n
herlaaibare battery wat energie tussen etes of tydens fisieke aktiwiteit beskikbaar stel.


Indien hierdie glikogeenstore reeds vol is en energie-inname voortdurend die liggaam se behoeftes oorskry, word die oorskot uiteindelik as liggaamsvet gestoor.


Die tipe koolhidrate wat ons eet, maak egter ‘n groot verskil. Nie alle koolhidrate word teen dieselfde tempo verteer en opgeneem nie.


Voedsel met ‘n lae glukemiese indeks (GI) word stadiger verteer, wat veroorsaak dat glukose
geleidelik in die bloedstroom opgeneem word. Dit lei tot ‘n meer stabiele vrystelling van energie en help om bloedsuikervlakke konstant te hou.


Voorbeelde sluit in hawermout, lensies, boontjies, volgraanprodukte (soos bruinrys, volgraanpasta en volgraanbrood), groente en meeste vrugte. Hierdie voedsel help jou om langer versadig te voel en kan konsentrasie en energievlakke deur die dag verbeter.


Daarteenoor word hoë GI-kosse, soos lekkers, sjokolade, tjippies, suikerhoudende koeldrank, kitskos en ander ultra-verwerkte voedsel, vinnig verteer en opgeneem. Dit veroorsaak ‘n skerp styging in bloedsuiker en ‘n vinnige vrystelling van energie. ‘n Paar uur later volg dikwels ‘n skerp daling in bloedsuiker, wat kan lei tot moegheid, bewerigheid, sweet, angstigheid, swak konsentrasie en honger kort ná ‘n maaltyd.

Lae GI-kosse kan vergelyk word met ekonomiese brandstofverbruik en ‘n konstante spoed op die langpad – minder slytasie en ‘n gladder rit.

Hoë GI-kosse is soos om voortdurend vinnig te versnel, hard te rem en onnodige risiko’s op die pad te neem. Die rit raak onrustig en minder doeltreffend. Uiteindelik kan jy in ‘n onnodige slaggat beland.


Stel etes saam vir volgehoue energie


• Lae GI-koolhidrate vir geleidelike glukosevrystelling.
• Proteïene vir versadiging en stadiger maaglediging.
• Gesonde vette vir langdurige energiebeskikbaarheid.
• Veselryke groente, lensies en boontjies vir ‘n stadiger glukemiese reaksie.
Voorbeelde
• Hawermout met Griekse jogurt, bessies en neute.
• Geroosterde volgraanbrood met avokado en eier.
• Appelskyfies met grondboontjiebotter.
• Lensiesop met volgraanbrood.


Praktiese wenke om die GI van kos te verlaag:


• Verkoel gekookte stysels en verhit dit weer voor etes (soos aartappels, pasta en rys).
• Rooster jou brood.
• Vermy dit om groente en pasta te sag te kook.
• Eet eers jou groente en slaai voordat jy die ander kos op jou bord eet.
• Kies vrugte wat nie heeltemal ryp is nie.

Oor die skrywer:


Karina Botha is ‘n gekwalifiseerde dieetkundige en borsvoedingskonsultant met ‘n passie vir die ondersteuning van individue en gesinne deur praktiese en wetenskaplike voedingsorg. Kom ons bou gesonde, realistiese gewoontes wat langtermyn gesondheid en selfvertroue ondersteun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button