Laaste kans om te registreer om jou stem te laat tel
As jy nie geregistreer is nie, sal jy nie kan stem op 4 November
Stemgeregtigde kiesers wat die afgelope naweek die finale registrasienaweek gemis het, het nog net geleentheid tot Vrydag 7 Augustus om aanlyn te registreer, waarna die Minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionale Sake (COGTA), Velenkosini Hlabisi, die plaaslike verkiesingsdatum amptelik sal proklameer. Sodra die verkiesingsdatum geproklameer is, moet die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) dieselfde dag om middernag alle registrasieplatforms sluit en sal geen verdere registrasies gedoen kan word nie.
‘n Totaal van 5 245 kiesers het oor die naweek (beide Saterdag en Sondag) stemlokale in die Ngwathe-munisipale gebied besoek. Hiervan was 618 nuwe registrasies. Altesaam 47 van die kiesers wat by stemlokale getel is, was jonger as 18 jaar, en 422 tussen die ouderdom van 18 en 21 jaar. Meer vroue as mans het stemlokale oor die twee dae besoek.
Ina Smook, een van die kiesers met wie Gazette by die Parys Openbare biblioteek gesels het, meen mense behoort te stem. “Dit is die enigste manier om verandering te bring,” het Smook gesê. Sy sê dit is nie net ‘n voorreg nie, maar ook elke stemgeregtigde kieser se reg. Twee jong kiesers, Ester en Hester Ellis, sal as 18-jariges vanjaar die eerste keer hul kruisie trek in die munisipale verkiesing, en was opgewonde om te registreer om te kan stem.

Aanlyn registrasies
Om aanlyn te registreer of te herregistreer vir die landwye munisipale verkiesing op 4 November, is vinnig, maklik en gratis. Jy het ook geen data nodig nie – maak net seker dat jou mobiele data aangeskakel is.
Om aanlyn te registreer, gaan na https://registertovote.elections.org.za
Wanneer moet jy herregistreer?
Herregistrasie is nodig wanneer jy sedert die laaste verkiesing verhuis het of jou residensiële adres verander het.
Deur seker te maak jou inligting is korrek op die kiesersrol, kan jy ook seker wees dat jy in die korrekte stemdistrik geregisteer is en by die regte stemlokaal sal wees op stemdag.
Maak seker van stemlokale
Anders as met ‘n nasionale verkiesing, kan jy met ‘n plaaslike verkiesing slegs stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is.
Om seker te maak by watter stemlokaal jy moet stem, gaan na https://maps.elections.org.za/vsfinder/
Korrekte adresbesonderhede is ‘n belangrike deel van die kiesersregistrasieproses.
Waar addisionele verifikasie nodig is, kan kiesers gevra word om hul adresbesonderhede te gee, hoewel ‘n bewys van adres nie nodig is nie.
Finale registrasienaweek
Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die OVK, het vroeër gesê die finale registrasienaweek het goed afgeloop met meeste stemlokale wat betyds oopgemaak het. Hoewel aanlyn registrasies nog gedoen kan word, is daar nie weer geleentheid vir mense om in persoon by stemlokale te gaan registreer nie, het hy gesê.
Kiesers is egter aangeraai om nie te wag tot op die nippertjie om van die aanlyn platform gebruik te maak nie, omdat hoë volumes verkeer op die platform verwag word, namate tyd uitloop vir registrasies.
As jy nie geregistreer is nie, sal jy nie kan stem op 4 November



