Kadoefie kook weer ‘n storm los in die boskombuis
Dit was 'n feesmaal in die Boskombuis soos jy net by die Klipkerk in Vredefort kry.
Wat is dan lekkerder as ‘n snoek op die kole, ‘n skaapkop of kerrie afval, hoenders gebraai in die Kadoefie oond, of heerlike varkrib en lamsribbetjies op die Gaucho braai.
Met ‘n spyskaart wat jou mond behoorlik laat water het, was man en muis Saterdag douvoordag by die NG Klipkerk in Vredefort vir die jaarlikse Kontreifees en Kosmark, want hier in die Boskombuis het Kadoefie ‘n storm los gekook en braaivleisvure vroeg-vroeg die mae laat grom vir ‘n feesmaal soos min.

Foto: Liezl Scheepers
Ds. Hannes Haggard vertel dat daar vanjaar altesaam 40 kg kerrie en tamatie lamsbredie gemaak is, 40 kg se beeskortrib in rooiwyn en tamatie bredie. Altesaam 25 heel varkribbetjies, en 10 heel lamsribbetjies was op die Gaucho braai.

Dan is daar ook nog 40 heel hoenders in die Kadoefie oond gebraai, 12 kerrie skaapafvalle voorberei, agt heel skaapkoppe gebak en drie skaaplammers gespit.
Vir visliefhebbers is 20 snoeke gebraai, en vir die minder waaghalsiges het 20 kg se kerrie-en-rys reggestaan, 20 kg se warm kerrie rump steak blokkies, 15 beessterte vir beesstert bredie, 150 van die allerlekkerste lamsosaties, 150 rumpsosaties en 250 gebraaide lamstjops.
Daar was ook nie net vleis op die spyskaart nie. Altesaam 960 pampoenkoekies wat by die brediekos bedien is, 10 kg se rys, 10 kg se stampmielies, 15 kg se mieliemeel vir pap, 35 kg aartappels,100 roosterkoeke, 15 potbrode en mieliebrode, en 50 vetkoeke, het as bykosse elke gereg afgerond. Vooraf is harde werk in die beplanning, die slag van die skaaplammers en beeste, en ure se voorbereiding van die kos ingesit.

Die eindresultaat – pure lekkerte soos jy net in die Klipkerk se boskombuis kan kry.

Foto: Liezl Scheepers



