Veldtog begin teen voorgestelde wysigings op Vuurwapenbeheerwet
Volgens Bennie van Zyl, Hoofbestuurder van TLU SA, is dit belangrik dat die stem van die landbougemeenskap reeds nou duidelik gehoor word.
TLU SA het ‘n nasionale veldtog van stapel gestuur om steun te werf teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens, wat volgens die organisasie verreikende gevolge vir boere, landelike gemeenskappe en wettige vuurwapenbesitters kan inhou.
Die veldtog sal daarop fokus om die publiek in te lig oor die moontlike implikasies van die voorgestelde wetswysigings, het die organisasie gesê.
Volgens Bennie van Zyl, Hoofbestuurder van TLU SA, is dit belangrik dat die stem van die landbougemeenskap reeds nou duidelik gehoor word. “Hierdie wetsontwerp raak nie net vuurwapeneienaars nie. Dit raak boere, gesinne en landelike gemeenskappe wat daagliks op hul eie verantwoordelikheid vir hul veiligheid en dié van hul werknemers moet instaan. Ons wil virseker dat die regering kennis neem van die omvang van die teenkanting voordat verdere besluite geneem word,” het Van Zyl gesê.
Van Zyl het ook genoem dat TLU SA se veldtog daarop gemik is om ‘n mandaat van die publiek te verkry wat gebruik kan word wanneer verdere gesprekke en wetgewende prosesse rondom die voorgestelde wysigings plaasvind.
“Ons vra nie mense om bloot ‘n naam by ‘n lys te voeg nie. Ons vra hulle om hul steun te toon vir die behoud van wettige vuurwapenbesit en die reg van wetsgehoorsame burgers om hulself, hul gesinne en hul bestaansmiddele te beskerm.”
Die organisasie het alle belanghebbendes aangemoedig om die veldtog te ondersteun deur hul besonderhede via TLU SA se webblad in te dien. Die ondersteuning wat ingesamel word, sal gebruik word om TLU SA se verdere optrede en voorleggings oor die voorgestelde wetswysigings te versterk, is gesê..



