Feesvure brand hoog vir Parys op Erfenisdag
Die gedagte met die straatparade is dat besighede vir die duur van die parade hul ‘besigheid’ na die parade sal bring.
Feesvure sal die naweek van 24 tot 26 September hoog brand in Parys wanneer dié dorp sy 150ste bestaansjaar in kleur en klank vier, met egte plattelandse hartlikheid – dit waarvoor die dorp alom
bekend is.

Kom stof jou feesvere af vir ’n kleurvolle straatparade op Nasionale Erfenisdag, 24 September, in die hoofstraat tussen Unie en Wesstraat. Vandaar beweeg die parade via Waterstraat na die oop terrein langs die brandweer, waar ’n verskeidenheid kosstalletjies in die feestent jou gaan bederf. ’n Wyn- en ginproe word ook in die vooruitsig gestel.

Die gedagte met die straatparade is dat besighede vir die duur van die parade hul ‘besigheid’ na die parade sal bring. Kunstenaars wat op die sypaadjie skilder, restauranttafels
waar mense op die sypaadjie die parade kan geniet, en sakelui wat deel is van die viering op winkelstoepe en waar voete beweeg.
Dit is hier waar Parysenaars kan kom wys wat die dorp bied – dansers, gimnaste, modelle, kunstenaars, digters, skrywers, sportklubs en handwerkgroepe.

As jou besigheid nie in Parys se hoofstraat is nie, kan jy steeds ’n toerismebanier borg en aansluit by die feestema om Parys rooi, wit en blou te tooi vir ’n viering van die dorp en sy mense. Die feesviering word
deur Parys Info & Tourism georganiseer.


Gesels met die personeel by Parys Info by 056 811 4000 of per WhatsApp by 067 278 2860. Jy kan ook die Info-kantoor by Breëstraat 85 (regoor die polisiestasie in Parys se hoofstraat) besoek om jou idees vir die parade te deel, of hand by te sit met die feesreëlings. Kyk ook op die webtuiste, https://parysinfoandtourism.co.za/ na wat beplan word sodat jy nie uitmis op ’n feestelikheid wat net een keer in 150 jaar gebeur nie.



