Local newsNews

Aanspreeklikheid gevra vir vuurwapens wat in misdadigers se hande beland

TLU SA vra vir onafhanklike oudits van vuurwapens in staatsbewaring, betroubare rekords van ontvangs tot vernietiging en doelgerigte ondersoeke na onwettige verspreidingsnetwerke.

Wanneer ’n vuurwapen in staatsbewaring geplaas word, moet die publiek kan vertrou dat dit veilig bewaar en, waar nodig, behoorlik vernietig word. Wanneer daardie vuurwapen eerder by ’n misdadiger beland, is dit nie bloot ’n administratiewe tekortkoming nie. Dit stel mense se lewens in gevaar. So het TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl vandeesweek gesê.

Die organisasie sê ook verdere beperkings op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars vervang nie behoorlike polisiëring, doeltreffende beheer binne staatsinstellings en optrede teen korrupsie nie.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gereageer op uitsprake van Dudley Brown, president van die Amerikaanse National Association for Gun Rights, tydens ’n internasionale konferensie oor wapenhandel in Genève waar Brown Suid-Afrika gekritiseer het omdat dit internasionaal leiding oor wapenbeheer neem, terwyl vuurwapens uit sy eie polisiebewaring by misdadigers beland het.  

Brown het verwys na die sogenaamde Prinsloo-vuurwapensaak. Die voormalige polisiekolonel Christiaan Prinsloo was betrokke by ’n netwerk wat tussen 2007 en 2015 sowat 2 000 vuurwapens uit polisiebewaring aan misdadigers verskaf het. Dit het wapens ingesluit wat die polisie gekonfiskeer of uit diens onttrek het.  Hierdie wapens moes vernietig word, maar is eerder gesteel en aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop.  

Prinsloo is in 2016 tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Volgens gepubliseerde navorsing het polisieondersoekers 888 van die betrokke vuurwapens aan 1 066 moorde tussen 2010 en 2016 verbind.

Foto slegs ter illustrasie.
Foto slegs ter illustrasie.

Brown se onlangse kritiek het dié saak weer onder die vergrootglas gebring en die nodigheid van behoorlike beheer oor vuurwapens in staatsbewaring beklemtoon.   “Hierdie saak wys waarom vuurwapenbeheer veel meer as lisensievereistes op papier moet behels. Daar moet beheer wees oor elke vuurwapen wat die staat ontvang, berg en vernietig. Wetsgehoorsame burgers kan nie verantwoordelik gehou word vir die korrupsie en gebrekkige toesig wat misdadigers bewapen nie,” sê Van Zyl.  

TLU SA vra vir onafhanklike oudits van vuurwapens in staatsbewaring, betroubare rekords van ontvangs tot vernietiging en doelgerigte ondersoeke na onwettige verspreidingsnetwerke.

Die organisasie sê verder die publiek behoort ook ingelig te word oor die opsporing van vermiste vuurwapens en optrede teen betrokkenes.  

Volgens Van Zyl sluit hierdie vraagstuk direk aan by TLU SA se veldtog teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens.

Hoewel die internasionale verdrag en plaaslike lisensiewetgewing afsonderlike raamwerke is, bly doeltreffende toepassing en staatsaanspreeklikheid noodsaaklik.   “Boere, hul gesinne en plaaswerkers woon en werk dikwels ver van onmiddellike hulp. Wetgewing moet dié werklikheid erken. Hul vermoë om hulself binne die wet te beskerm, mag nie verswak word terwyl tekortkominge in polisiëring en vuurwapenbeheer onvoldoende aangespreek word nie.”  

Van Zyl beklemtoon dat verantwoordelike vuurwapenbesit bevoegdheid, veilige bewaring en nakoming van die wet vereis. Dieselfde erns moet geld vir staatsamptenare en instellings wat vuurwapens hanteer.   “Dit gaan oor meer as ’n vuurwapen. Dit gaan oor mense se veiligheid en die reg om hulself wettig te beskerm..”   T

Mense kan TLU SA se veldtog op sy webwerf voltooi.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button