Local newsSport

Johan nog Springbok-rats met die ring ná meer as ses dekades

Ringtennis is by uitstek 'n gesinsport.

Ringtennis het ‘n jarelange en trotse geskiedenis in Suid-Afrika. Die 74-jarige Johan Britz wat die Sedibeng-distrik by die afgelope SA-kampioenskappe verteenwoordig het, en lid is van die Parys-ringtennisklub, was destyds saam met sy broer, Bertie, deel van die Suid-Afrikaanse ringtennisspan wat in 1976 teen die eerste Duitse toerspan wat Suid-Afrika besoek het, meegeding het.


Die Suid-Afrikaners het as ‘n gekombineerde span van die Vrystaat en Noord-Vrystaat, die Duitsers in Bloemfontein die stryd aangesê, onthou Johan.


Hy en Bertie het hul dubbelwedstryd gewen, maar verloor die Suid-Afrikaners die toernooi met enkele punte.


In latere jare het Suid-Afrika ‘n toerspan na Duitsland gestuur, en het die Duitse ringtennisspelers weer in 1993 in Suid-Afrika getoer.


Johan het in 1963 as kind saam met sy ouers by die Marquard-klub begin ringtennis speel. Toe was dit nog grondbane, onthou hy. Toe hy in 1964 na Kroonstad verhuis het hy in alle erns vir die SAPD-klub begin speel.

Johan Britz en sy seun Christo wat vanjaar saam aan die SA Ringtenniskampioenskappe deelgeneem het. Foto: Verskaf
Johan Britz en sy seun Christo wat vanjaar saam aan die SA Ringtenniskampioenskappe deelgeneem het. Foto: Verskaf


Oor die jare het die Kroonstad-klubs aanvanklik eers vir Vrystaat, toe vir Noord-Vrystaat, en later vir Wes-Transvaal gespeel.


Met die ontbinding van Wes-Transvaal het Johan en Bertie by die Vaal-provinsie ingeskakel, wat vandag bekend is as die Sedibeng-distrik waarby die Parys, Parke en Kiewiet ringtennisklubs ingesluit is.


Oor meer as ses dekades op die ringtennisbaan, het Johan vele spog prestasies bereik, sedert hy en Bertie die seuns dubbels as juniors by die Vrystaat-kampioenskappe in 1968 gewen het.


Hy verwerf sy SA-kleure die eerste keer in 1994. In 2005 het hy en sy damesmaat, Martie Crous, die Gemengde Veterane-afdeling in Duitsland gewen.


In 2013 was hy weer deel van die SA-span wat aan die Duitse Turnfest deelgeneem het, en wen hy en sy damesmaat, Miriam Hartman, die Gemengde afdeling.


Johan is sedert hy die eerste keer sy SA-kleure in ringtennis behaal het, elke jaar vir die SA-span gekies, met die uitsondering van die jaar toe hy weens ‘n breukoperasie in die SA Uitnodigingspan ingesluit is.


In 2025 is hy saam met die SA senior span na Duitsland, en behaal hy vanjaar saam met sy seun Christo, ‘n tweede plek in die dubbels by die SA-ringtenniskampioenskap, waar albei ingesluit is in die SA Veterane-span.

Johan Britz en sy seun Christo wat vanjaar saam aan die SA Ringtenniskampioenskappe deelgeneem het. Foto: Verskaf
Johan Britz en sy seun Christo wat vanjaar saam aan die SA Ringtenniskampioenskappe deelgeneem het. Foto: Verskaf


Ringtennis was nog altyd ‘n gesinsport, vertel Johan, maar die sport is klein want dit gebeur dikwels dat jonger spelers wanneer hul volwasse word weens werksomstandighede ophou speel.


Vir Johan is ringtennis egter steeds ‘n familie-ding. Hy en sy dogter, Elna Eybers van Parys, het ongeveer vyf jaar gelede saam aan die SA-kampioenskappe deelgeneem.


Johan, Elna en Christo het ook in 1993 vir Nood-Vrystaat teen die Duitse-span gespeel.
Sy grootste voorreg was egter om in 2021 saam met sy kleinkinders, Juané en Morné, aan die SA-kampioenskappe te kon deelneem toe albei ingesluit was in die SA-Uitnodigingspanne.

Ouderdom is geen verskoning om weg te bly van die ringtennisbaan nie, sê Johan. Solank jy fiks is, en jou refleksie goed, is ringtennis die sport vir jou.


Hy en Esther Goosen, nog ‘n lid van die Parys-ringtennisklub, is tans die oudste van ringtennisspelers uit Limpopo, Noord-Transvaal (Gauteng), Transvaal (Gauteng-Suid) en Sedibeng (Vaaldriehoek), wat by SA Ringtennis geaffilieer is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button