Laaste groet vir geliefde raadslid en oudburgemeester
Sy lewe het gepreek van diensbaarheid.
Familie, vriende en raadslede sal vanoggend om 11:00 met die gedenkdiens in die NG Moedergemeente Heilbron, afskeid neem van ‘n geliefde en gerespekteerde man, pa, vriend en kollega wat oor jare diep spore in veral die Heilbron gemeenskap getrap het. Rdl. Phillip van der Merwe het op 22 Desember sy lang en dapper stryd teen kanker verloor.
Sy lewe het gespreek van diensbaarheid, beginselvastheid en nederigheid. Sy morele kompas en standvastigheid het vir hom respek besorg selfs onder ander politieke partye.
Hy was ‘n man van aksie, en altyd bereid om leiding te gee – selfs in te gryp waar nodig. So het die Vryheidsfront Plus in Desember in ‘n roerende huldeblyk aan rdl. Van der Merwe geskryf.
Hy was een van die langsdienende raadslede wie sedert 2006 ‘n toegewyde VF Plus-raadslid in die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit (Edenville, Heilbron, Koppies, Parys, Vredefort) was.
Voor sy rol as VF Plus-raadslid het Phillip vir jare gedien as die burgemeester van Heilbron en ‘n blywende bydrae tot die gemeenskap gemaak.
Sy regsagtergrond en leierskapervaring het hom ‘n onmisbare steunpilaar gemaak vir sy gesin, gemeenskap en die VF Plus.
Opregte medeleye met sy vrou, Jeanne, en seuns, David, Pierre en Mark.
“Mag julle troos vind in die wete dat Phillip se nalatenskap sal voortleef in diegene wat hy aangeraak het. Mag die Hemelse Vader jul in die tyd van rou versterk en vertroos.”

Ook die Ngwathe munisipaliteit het by monde van sy Speaker, rdl. Neheng Mopedi die raad se meegevoel met die familie betuig en gesê dat rdl. Van der Merwe bekend was vir sy waardevolle ondervinding en betrokkenheid by die Raad.
- Rus in vrede Phillip. Die Gazette-personeel sal jou waardevolle bydraes, jou professionaliteit te alle tye, opregtheid, vriendskap en besondere menswees, oor baie jare ongelooflik baie mis. Jy was vir baie ‘n troue vriend, raadgewer, en ‘n man van inbors. Ons harte is seer.



