Die Vaal se water gaan weer bokspring hier
'n Sluis is gisteraand by Grootdraaidam oopgetrek.
Vaaldam staan vanoggend op 24,62% met 49,9mm reën wat in die Vaaldam se opvangsgebied gemeet is.
By Barrage is daar tans nege sluishekke oop as gevolg van reën in Gauteng in die opvangsgebied onder Vaaldam. Uitvloei by Barrage is tans 403,605 kubieke meter per sekonde. Na twaalf ure plus behoort Parysenaars dus ‘n merkbaar verhoogde vloei van die Vaalrivier by Parys te kan sien. Vloei is tans 130 kubieke meter per sekonde.
Dié water sal weer na Bloemhofdam vloei.
Grootdraaidam was teen 22:00 Maandagaand 105,58% vol en is daar reeds gisteraand ‘n sluis oopgetrek op ‘n meter wat later na 2m oopgetrek sou word. Grootdraaidam se water loop weer in by Vaaldam.
Parys het die afgelope 24 uur 25.3mm reën in die dorp gehad.
In totaal is daar in Parys die afgelope week nou al 63,5mm reën gemeet.
Op die plaas Baskop in die Vredefort Koepel is daar vir Januarie tot dusver reeds 54mm reën gemeet.



