My naam deur die modder gesleep deur ‘n ‘lafaard’
Met die voorval is sosiale media gebruikers opnuut weer daaraan herinner dat die plasing van vals inligting 'n kriminele oortreding kan wees, en dat mense moet besef dat jy nie hiermee kan wegkom nie.

Vir dae kon hy nie slaap nie. Hy kon nie op sy werk fokus nie. Angstig het Shaun Leyland Facebook-groepe dopgehou. Hy het geworstel met gevoelens van woede en totale magteloosheid oor wat aan hom gedoen is met ‘n plasing op Facebook waarin hy as seksuele oortreder uitgebeeld is, deur iemand wat die vals inligting op ‘n mashoof van Parys Gazette gesit het.
Dit was ‘n Dinsdag – 14 Januarie, onthou hy. Sy werkgewer het hom ingeroep waar hy as berader/lewensstyl-afrigter werk. Dit nadat ‘n kollega die plasing gesien. en dit onder sy werkgewer se aandag gebring het.
“My hart het uit my bors gespring. Waar kom hierdie vandaan?” was my eerste gedagte, vertel Leyland in ‘n openhartige onderhoud met Gazette, oor die emosionele trauma wat hy die afgelope weke ervaar het.
Sy werkgewer het besef dat dit ‘n gemanipuleerde plasing was deur iemand wat hom skade wou berokken, en vertel Leyland van die geweldige ondersteuning wat hy nie net van sy werkgewer gekry het nie, maar ook van sy kollegas en mense naaste aan hom.
Vir Leyland was die erns van die vals aantyging ‘n groot skok – des te meer as jy in ‘n klein dorpie soos Parys gevestig is, sê hy. “Jy wonder dadelik wie dit gesien het. Wat mense dink.”
Dit, sê Leyland is so ten spyte van die feit dat die plasing vals is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het by navraag bevestig dat Leyland nooit van seksuele misdrywe verdink of daarvoor aangekla is nie.
Hoewel hy ‘n vermoede het dat die plasing deur ‘n persoon in Carletonville gemaak is, het Leyland geen sekerheid nie.
Die plasing is wel die eerste keer op ‘n Carletonville Facebook-groep opgetel, en daarna ook op Facebook-groepe in Parys.
“Waar dit geplaas is, het ek dadelik die admins van die groepe gekontak en gevra dat die plasings verwyder word – wat wel gedoen is,” sê hy, maar vertel ook van ‘n admin wat bloot geweier het om ‘betrokke’ te raak.
Die grootste frustrasie was dat selfs boodskappe na die profiel, en na Meta, eienaar van Facebook, nie die oortreder verhinder het om voort te gaan met die deel van die plasing nie.
Leyland kon vasstel dat die boodskap deur ‘n vals profiel geplaas is, en dat selfs ‘n besigheid se naam deur dieselfde profiel gebruik is sonder hul medewete.
‘n Dag na die plasing is Leyland na die Buffelshoek-polisiestasie waar hy klagte van laster en Crimen Injuria gelê het teen die persoon wie hy vermoed die plasing gemaak het.
Na sy verklaring by die polisiestasie het polisiebeamptes hom ook kom sien, en is die polisie besig met hul ondersoek, sê hy.
“Ek gaan nie toelaat dat die skuldige hiermee wegkom nie. As ek dit laat gaan, gee ek toestemming dat die persoon hiermee kan voortgaan. My naam gaan nie deur die modder gesleep word deur iemand wat ‘n klip in die skoen het nie,” sê hy.
Vir die eerste week en ‘n half het ek baie swaargekry, vertel Leyland en voeg by dat hy self uit ‘n gebroke huishouding kom en 28 jaar ‘n verslaafde was.
“My verslawing het baie dinge vernietig wat ek moes regmaak. Die vals plasing het wonde vir my oopgekrap, maar ek is dankbaar vir die mense om my wat my gedra het. Ek voel ten minste nou dat ek dit wat gebeur het kan aanvat.Ek hou steeds Facebook-groepe dop. Ek glo dat die persoon wat dit aan my gedoen het, impulsief was, en eie seer het waarmee ander seergemaak word. Net ‘n lafaard doen so iets, maar ek weet waarnatoe ek op pad is.Ek gaan nie in ‘n gat wegkruip nie,” sê Leyland “Ek staan vas in my geloof.”
Vals nuus plasings kan kriminele oortreding wees
Caxton Plaaslike Media, eienaar van Parys Gazette, het nadat die vals nuus plasings op Facebook-groepe opgetel is, onmiddellik opgetree, en namens Parys Gazette die admins en moderators van die onderskeie blaaie gekontak. Die onmiddellike verwydering van die plasing is versoek, waaraan voldoen is, en ‘n berig is geplaas waarin bevestig is dat Parys Gazette nie die plasing gemaak het nie, en hul daarvan distansieer.
Dit is duidelik gestel dat Parys Gazette geen verantwoordelikheid aanvaar vir die valsnuus wat hierdeur versprei is nie.
Irma Green, groepredakteur van Caxton Plaaslike Media, sê die onnadenkende en kriminele optrede van die persoon wat die plasing gemaak het, het nie net die slagoffer skade aangedoen nie, maar ook vir Caxton reputasieskade veroorsaak.
Sy het beklemtoon dat die plasing van vals inligting ‘n kriminele oortreding kan wees, en dat mense moet besef dat jy nie hiermee kan wegkom nie.
Lees ook die berig oor ‘n klag van laster wat gemaak is teen ‘n TikTok-gebruiker na valse en skadelike rassistiese aantygings in Augustus 2023 by https://www.citizen.co.za/network-news/lnn/article/gold-reef-city-false-racism-claims-afriforum-demands-npa-takes-action/



