Slangvangers het hul hande vol

Slange wat nie giftig is nie, is dikwels meer geneig om ‘n bytaksie te hê.

Soveel slange is lanklaas in die Parys-omgewing gesien, sê WeCare se Wynand Nel wat die afgelope drie weke meer as 25 slange help vang het. Nel wat al vir jare help om slange te verwyder, sê daar is buitengewoon baie slange die afgelope tyd gekry en vermoed hy dat dit moontlik ‘n teken van reën of vroeë koue kan wees wat maak dat die slange nou kos soek voor hul hiberneer.

Hy sê meeste slange is by huise en in erwe naby die rivier gekry en ook enkeles in die dorp. Sy raad is dat mense gereeld op die uitkyk moet wees veral in donker, droë plekke waar die slange graag wegkruip.

Hy waarsku ook dat mense nie moet probeer om self die slange te vang nie, maar eerder indien moontlik ‘n foto van die slang vir hom sal stuur, sodat wanneer hulp gestuur word, hulle vooraf weet waarmee hulle te doen het. As jy nie n foto kan neem nie, probeer om die slang dop te hou totdat hulp kom, maar onthou – jou veiligheid kom altyd eerste.

Hou jou troeteldiere en kinders weg van die slang.

Veral rinkhalse is baie agressief die tyd van die jaar.

Volgens slangkenner, Arno Naudé, eienaar van Snake Bite Assist in Pretoria, is die meeste slangbyte wat gerapporteer word veroorsaak deur rinkhalse, Kaapse Kobras en  pofadders – almal giftig hoewel die rinkhals nie so giftig soos die Kaapse Kobra en ‘n pofadder is nie.

‘n Rinkhals.
‘n Pofadder.

Naudé sê die Kaapse Kobra is van die giftigste slange in Afrika en meer volop as die mamba, hoewel dié twee kop aan kop loop as dit kom by sterftes.

Byt of pik ‘n slang?

Sekere slange soos die mamba en adders pik, maar ander slange soos kobras boomslange en luislange het ‘n bytaksie, verduidelik Naudé

Hy sê slange wat nie giftig is nie, is ook dikwels meer geneig om ‘n bytaksie te hê.

Wat om te doen in geval van ‘n slangbyt:

  1. Naudé se raad is om wanneer ‘n slang jou sou byt of pik ‘n foto, ‘n foto so na as moontlik te probeer neem, mits dit veilig is, al is dit ook net van ‘n klein gedeelte van die slang se lyf. Moet egter nie kanse waag om die slang te probeer doodmaak of te vang nie. ‘n Behoorlike beskrywing van die slang kan ook noodiens- en hospitaalpersoneel help.
  2. Ry dadelik met die pasiënt na die naaste hospitaal en vra dat nooddienste jou langs die pad kry. Maak seker hulle weet watter pad jy gaan ry en sit jou noodligte aan sodat hulle jou maklik sien.
  3.  Moet onder geen omstandighede die plek waar die pasiënt gebyt/gepik is probeer afbind met ‘n verband nie.
  4. Hou die ledemaat waar die bytplek is, harthoogte.
  5. Hou die pasiënt kalm
  6. Moet onder geen omstandighede die pasiënt iets gee om te drink nie.

Wat om te doen wanneer jy ‘n slang in jou erf of huis sou kry

Dit is altyd die beste om eerder iemand te kry wat slange ken om jou te help om die slang te vang, maar sou dit nie moontlik wees nie, is ‘n besem die beste om die slang in ‘n houer wat kan toemaak soos ‘n boks of onder n harde plastiekhouer soos ‘n asblik of  emmer in te stoot.   Moenie die houer in die son laat nie en sit n baksteen op die houer totdat hulp opdaag. Die slang moet so gou moontlik in die veld vrygelaat word.

Die bruin huisslang word byvoorbeeld dikwels in erwe en huis opgemerk, maar is gewoonlik skadeloos en kan uitgeken word aan sy bruin kleur en twee wit strepe van sy neus, verby sy oë tot aan die agterkant van sy kop.

Noodnommers om te skakel

Poison Information Helpline – 086 155 5777

Snake Bite Assist (Arno Naudé) – 083 739 9303

WeCare (Wynand Nel) – 082 629 1553/ 071 554 7966

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button