Omstreeks om middernag op 26 Desember, het ‘n man glo in Ventersdorp in ‘n ambulans gespring en daarmee weggejaag. Daar was nog ‘n pasiënt in.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê personeel van Nood- en Mediese Reddingsdienste (EMRS) het ‘n pasiënt in die ambulans geplaas en gereed gemaak om die pasiënt na ‘n naby geleë hospitaal te neem. Die personeel was besig met papierwerk toe ‘n man glo in die ambulans spring en daarmee wegjaag.
“Die polisie is gekontak, wat dadelik opgetree het en daarin geslaag het om die ambulans kort ná die voorval op te spoor en te stop.”
Die polisie in Ventersdorp het ‘n 24-jarige man op Vrydag, 27 Desember in die vroeë oggendure by Tshing lokasie, net buite Ventersdorp in hegtenis geneem.
Die verdagtes sal vandag, 30 Desember in die Ventersdorp-landdroshof op aanklag van diefstal van ‘n motorvoertuig, verskyn.



