Gert Louw (54), wat op 26 Desember tussen Noordwes en Gauteng vermis geraak nadat hy glo ‘n kliënt gaan sien het, is veilig gevind.
Louw se voertuig is 27 Desember in Durban, KwaZulu-Natal gesien.
Die privaatspeurder, Mike Bolhuis en sy span, het die familie gehelp om vir Louw op te spoor. Bolhuis het Sondag, 29 Desember ‘n verklaring uitgereik waarin daar bevestig is dat Louw gevind is.
“My skoonpa is veilig gevind. Namens die Louw-familie wil ons ons opregte dankbaarheid betuig vir elke gebed en boodskap. Sonder julle almal sou hierdie uitkoms nie moontlik gewees het nie. Ons wil ook van hierdie geleentheid gebruik maak om Mike Bolhuis en sy uiters bekwame en omgee span te bedank vir die bystand van ons tydens hierdie benoude situasie. Alhoewel ons hoop dat niemand ooit ‘n soortgelyke ervaring in die gesig staar nie, sal ons hul dienste ten sterkste aanbeveel indien jy dit ooit nodig het. Alhoewel ons verstaan dat daar vrae kan wees oor die omstandighede van hierdie saak, vra ons vriendelik dat julle ons gesin se privaatheid op hierdie tydstip respekteer. Die saak word steeds ondersoek en kan ons geen verdere inligting verskaf nie. Al wat werklik saak maak, is dat hy veilig en ongedeerd is. Weereens dankie vir julle ongelooflike ondersteuning,” het Francois Kruger, Louw se skoonseun in ‘n plasing op Facebook gesê.



