’n Sewentienjarige seun het Vrydag ’n hond met ’n piksteel reg oorkant die straat waar die hond se eienaars woon, doodgeslaan.
Toe pastoor John Kok Vrydag by die huis kom, het sy vrou hom ingelig dat iemand hulle hondjie met ’n piksteel geslaan het. Hy het PAWS geskakel, maar met hul aankoms was Pote, die klein hondjie, reeds dood.
Volgens Andries Venter, inspekteur van PAWS, het die seun glo sy humeur verloor en dit op dié hondjie langs die straat uitgehaal.
Past. Kok sê die seun wou nie sê hoekom hy Pote doodgeslaan het nie.
“Hy was so ‘n oulike diertjie, ek weet nie hoekom iemand so iets aan hom kan doen nie,” sê hy.
Pote, wat sowat ’n jaar en ’n half oud is, was die hele gesin se hondjie en almal was baie lief vir hom.
“Die kinders huil nou nog oor hom,” sê ’n baie hartseer past. Kok.
“Die mannetjie sal rêrig sy straf moet kry vir wat hy gedoen het.”
PAWS het ’n klag van dieremishandeling teen die minderjarige seun gelê.



