“Woensdagmiddag laat stuur Johannes Bogosi ’n please-call-me van Ventersdorp af. Ek bel hom. ‘Wat gaan aan, Johannes?’ vra ek. ‘Is als orraait daar?’ Gewoonlik stuur hy vroegoggend ’n please-call-me wanneer hy sommer net wil gesels. ‘Dis Julie, Ouboet. Julie hy is baie siek.’”
So het die bekende skrywer Dana Snyman op 2 Junie op sy Facebookblad geskryf. Die Ventersdorper, Johannes het jare lank vir Dana se pa in Ventersdorp gewerk. Hy, sy vrou, Lettie en hul seun, Koos, het ook vir ’n tyd by Dana in Jacobsbaai gewoon.
“Hulle is my Ventersdorp-familie,” het Dana op Facebook geskryf.
Dana het destyds vir Koos ’n Jack Russel hond, dié van sy oorlede verloofde, Anette gegee.
“Anette is in Oktober 2017 oorlede en ná haar begrafnis in Bloemfontein het Julie saam met ons Jacobsbaai toe gekom. Gou het Julie en Koos mekaar aangeneem,” vertel Snyman.
Julie het twee weke gelede siek geword en is dood voor Johannes haar by ’n veearts kon kry. Koos se hart was stukkend. Hy en Julie was beste maats en volgens Dana was hulle onskeibaar.
“Stap Koos iewers heen, draf Julie saam. Gaan lê Koos voor die TV, spring Julie by hom op die bank. En saans kruip Julie by Koos onder die komberse in. Ons het van Julie begin praat as ‘Koos se hond’, en gelag wanneer ons dit sê,” skryf hy.

Koos het nie die afsterwe van sy hond goed hanteer nie en die gesin het besluit om vir Koos ’n nuwe hond te kry.
PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) het gehoor van Julie en het besluit om vir Koos ’n nuwe hond te gee. Johannes het foto’s van hul erf gestuur om vir PAWS te wys dat dit vir ’n hond geskik is.
Woensdagoggend (12 Junie) het die gesin deur gery om vir Koos ’n nuwe hond by PAWS te gaan kies.
Volgens Cecilia Marais, ’n woordvoerder van PAWS, het Koos reeds sy oog op ’n hond in die eerste ry hokke gehad, maar hy het verder saam met sy ouers deur die hokke gestap om na nog honde te kyk.
Hy het toe teruggegaan en gewys na die hond in die eerste ry hokke. Dié hond, ’n Jack Russel wat op ’n druppel na Julie lyk, is nou Koos se nuwe hond. Die hond het nie ’n naam gehad nie en is natuurlik ook Julie gedoop.
Dana het Donderdagmiddag weer ’n inskrywing op Facebook gemaak: “Ek het pas met Johannes oor die foon gepraat. ‘Julie het gisteraand by Koos op die bed geslaap, Ouboet,’ sê hy. ‘Koos is happy, en Julie is happy. Ons is happy.’”




