Gewapende huisroof in Van der Hoffpark
‘n Gewapende huisroof het vanmiddag (13 Oktober) in Pezcodstraat, Van der Hoff Park plaasgevind.

‘n Gewapende huisroof het vanmiddag (13 Oktober) in Pezcodstraat, Van der Hoff Park plaasgevind nadat twee verdagtes met ‘n Nissan 1400 bakkie rondom 13:20 toegang tot die kompleks verkry het.
Volgens die polisie weet die vrou nie hoe die verdagtes toegang verkry het nie. Kapt. Aafje Botma, mediawoordvoerder in die Noordwes, sê beide verdagtes het ‘n vuurwapen gehad.
Hulle het die vrou en tuinier vasgebind en die kluis se sleutels gevra. Hulle het drie vuurwapens uit die kluis gesteel en aangedring dat die vrou haar juwele ook aan hulle oorhandig.
Nadat sy aan hulle verduidelik het dat hulle besig is om te trek en dat haar juwele nie by haar is nie, het hulle op die vlug geslaan. Volgens kapt. Botma is niemand in die voorval beseer nie. Sover is niemand ook in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.




