Tussenverkiesing uitslae – VF+ wen Wyk 5
Die VF+ het met meer as ʼn 100 stemme die tussenverkiesing in Wyk 5 gewen. Hulle het uiteindelik 485 stemme teenoor die DA se 312 stemme getel. Die EFF het 13 en die ANC het 14 stemme behaal. Die uitslag in Wyk 9 en 18 het ook bevestig dat die ANC steeds die leier in …

Die VF+ het met meer as ʼn 100 stemme die tussenverkiesing in Wyk 5 gewen. Hulle het uiteindelik 485 stemme teenoor die DA se 312 stemme getel. Die EFF het 13 en die ANC het 14 stemme behaal.
Die uitslag in Wyk 9 en 18 het ook bevestig dat die ANC steeds die leier in dié wyke is.
Die VF+ kandidaat, Matthys van Tonder, is baie verheug en het sy dank teenoor die kiesers uitgespreek: “Sonder kiesers is ʼn politieke party niks nie. Die kiesers en die VF+ het agtergekom dat hulle ʼn ooreenkomstige belang het en dit is oorlewing.” Hy skryf die VF+ se oorwinning toe aan die feit dat hulle ʼn impak maak daar waar hulle regeer.
Die DA-kandidaat in Wyk 5, Henricha Hodgson, het Matthys van Tonder en die VF+ geluk gewens en gesê dat hulle dit absoluut verdien het. Sy het ook elkeen van die DA-kiesers bedank wat gestem het en ook haar dank teenoor diegene uitgespreek wat ʼn draai gemaak het al was hulle nie in Wyk 5 geregistreer om te stem nie.
Sy wil ook aan al hulle ondersteuners sê dat die DA steeds toegewyd is aan hulle geveg teen korrupsie: “Ons (die DA) voel steeds dat die uitwissing van korrupsie die plek is waar ons moet begin. Dit gaan aan die einde om fondse vir dienslewering aan te wend waarvoor dit bedoel is.” Hodgson het verder gesê dat die antwoord daarin lê om hande te vat met ander kleiner partye sodat hulle saam ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika kan bewerkstellig.
In die afgelope jaar het die VF+ in twee wyke gewen – Wyk 2 en 5.



