As munisipaliteite eksamen geskryf het, sou almal gedruip het.
Die beste van die groep sou die J.B. Marks munisipaliteit gewees het.
AfriForum het Dinsdag tydens ‘n mediakonferensie die Sentrum vir Plaaslike Regering van stapel gestuur en daarmee saam die Noordwes Munisipale Indeks bekendgestel.
Volgens dr. Eugene Brink, bestuurder van dié navorsingsentrum, is die idee van die sentrum om spesialis-steun vir die werksaamhede van AfriForum Gemeenskapsake (GMS) te bied.
“Die sentrum gaan plaaslike selfbestuuropsies vir gemeenskappe ondersoek en ook navorsing doen om die ware toestand van munisipaliteite toe te lig. Laasgenoemde sal sake soos munisipale korrupsie en dienslewering aanroer. Dit sal dus ‘n intellektuele voertuig vir selfbestuur en as munisipale waghond optree,” het hy gesê.
AfriForum se verslag oor vullisterreine het uitgewys dat Potchefstroom se vullisterreine vinnig agteruitgaan. Die jongste puntetoekenning was 16%, terwyl voormalige puntetoekennings soos volg was: 100% (2016), 90% (2017), 94% (2018) en 64% (2019).
Boonop het Ventersdorp net 3% in 2018 behaal en 0% in 2020 (die enigste jare waarin dit geëvalueer is).
Inwoners van die munisipaliteit kla gereeld oor die instandhouding van paaie, rioolstelsels en waterlekke.
In Potchefstroom het verskeie inwoners al self ingespring om onder meer slaggate te herstel. In die Bult-area is die Cachetpark CID gestig. Hierdie projek het self sekuriteit en vullisverwydering in die afgebakende gebied van stapel gestuur.
Die munisipaliteit is onder administrasie en die burgemeester en verskeie senior bestuurders is onlangs van bedrog en diefstal aangekla.
“Die munisipaliteit het onreëlmatige uitgawes ten bedrae van R1,5 miljard gemaak en was een van vyf munisipaliteite wat ‘n bydrae van 63% gemaak het tot die totale bedrag van onreëlmatige besteding in Noordwes. Die munisipaliteit het ook R168 miljoen op ongemagtigde uitgawes en R3,7 miljoen op vrugtelose en verkwistende uitgawes bestee.
Die feit dat daar geen negatiewe gevolge verbind is aan swak prestasie nie en dit dus nie ontmoedig is nie, asook die vele vakatures in sleutelposte, is geïdentifiseer as die belangrikste oorsake van hierdie probleme,” lui die verslag.
Die munisipaliteit is in 2018 deur Ratings Afrika aangewys as die munisipaliteit in die provinsie wat die mees finansieel volhoubaar is.
“As hierdie munisipaliteit die beste is, dan sidder ek om te dink hoe lyk dit in die slegste munisipaliteite. Ek is tog bly vir die munisipaliteit. Hopelik spoor dit hulle aan om beter dienste te lewer,” het prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die NWU, destyds aan die Herald gesê.
Hans Jurie Moolman, DA raadslid, het destyds gesê dat J.B. Marks die eenoogkoning in die land van die blindes is.
Netwerk24 berig Premier Job Mokgoro het verlede week tydens ‘n vergadering in Coligny gesê “hy is skaam” oor die stand van munisipaliteite in die provinsie.




