Die spyskaart vir Rooy Kosmark hierdie Sondag
Met meer as 50 stalletjies sorg die Rooy Kosmark Sondag, 25 April dat die fynproewer se sintuie weer behoorlik geprikkel word.
Die Rooy Kosmark en kattebakverkoping (Car Boot Sale) vind weer op Sondag, 25 April van 10:00-15:00 by die Van Rooyensaal (Piet Bosmanstraat) plaas. ʼn Professionele sjef, Tania van Rooyen, reël die mark al vir die afgelope ses jaar en met die meer as 50 stalletjies sorg sy dat die fynproewer se sintuie behoorlik geprikkel word.
Daar is ook heelwat nuwe stalletjies waarna jy kan uitsien. Die mark is bekend vir die heerlike etes en drinkgoed wat hier te koop is. Die kleinspan is ook welkom. Hulle word behoorlik besig gehou met gesigverf, ʼn verskeidenheid speletjies en ʼn springkasteel. Dié Sondag sal trapkaskarre die aktiwiteit wees waarna die meeste kinders sal uitsien.
Rooy Kosmark se spesialiteit is hul gin en Sondag kan smulpape aan die heerlike grenadella gin proe. Vir die hongeres is daar heerlike Maleise lamskerrie, tradisionele skaapafval, beesstert met stampmielies, kerrie en rys en outydse lewerkoekies. Vir die droë keel is daar verder boetiekbier en wyn.
Indien jy op die uitkyk is vir ʼn spesiale geskenk kan jy rondsnuffel tussen silwer juweliersware, geskenkies vir babas, houtmodelle en kralewerk. Versamelaars van oudhede kan met die kattebakverkoping (Car Boot Sale) dalk ook ‘n verrassing of twee ontdek.
Toegang is gratis. Uitstallers en besoekers is verbind tot Covid-19-protokol. Diegene wat graag nog deel wil wees van die mark en hul produkte of goedere wil verkoop, kan gerus vir Tania by 079 918 2092 kontak. Stuur ʼn epos na hullabaloo.decorhire@gmail.com. Die volgende mark word weer op Sondag, 30 Mei aangebied.




