NWU sien bewerings oor dameskoshuis in ernstige lig
"Die bestuur wil alle betrokke partye, sowel as ander groeperings en organisasies versoek om ons die geleentheid te gee om die saak te hanteer en om maatreëls in plek te stel om te verhoed dat so 'n situasie weer voorkom."
Die bestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer beklemtoon dat hulle die bewerings rakende uitsluiting ten opsigte van taal, ernstig opneem.
Tydens ‘n koshuisfunksie van die Karlien Dameskoshuis verlede naweek het die voormalige Primaria tydens die programverrigtinge glo ‘n toespraak in Afrikaans gelewer. Die program by die koshuisfunksie het na bewering sommige studente van deelname uitgesluit en onwelkom laat voel.
Die Primaria se termyn het hierdie afgelope week tot ‘n einde gekom. Die nuwe huiskomitee, is alreeds op Woensdag, 14 September 2022 aangekondig.
Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Potchefstroomkampusbedrywighede, noem in ‘n amptelike skrywe dat bestuur dadelik ingegryp het toe die aangeleentheid aangemeld is. ‘n Vergadering is op Maandag, 12 September met al die rolspelers gereël.
“Tydens hierdie vergadering is besluit dat die saak onmiddellik saam met die Studentekampusraad, die huiskomitee sowel as die koshuisouer van die geaffekteerde koshuis aangespreek sal word. Die eerste vergadering in hierdie verband het reeds die aand van 12 September plaasgevind. Tydens hierdie vergadering is sekere besluite geneem oor hoe om die saak aan te spreek,” verduidelik Prof. Balia.
Volgens hom het dit duidelik geword dat sekere studente in die koshuis bekommerd is oor ander sake wat hulle as uitsluitend beskou.
“Die universiteit verbind hom voortdurend om ‘n omgewing te skep waar alle personeel en studente welkom voel ongeag ras, godsdiens, taal en seksuele oriëntasie. Enige praktyk wat uitsluitend is of enige deel van die NWU-studente, -personeel of -belanghebbendes onwelkom laat voel, sal nie geduld word nie en word ten sterkste veroordeel,” noem hy.
“Die bestuur wil alle betrokke partye, sowel as ander groeperings en organisasies versoek om ons die geleentheid te gee om die saak te hanteer en om maatreëls in plek te stel om te verhoed dat so ‘n situasie weer voorkom, hetsy by hierdie spesifieke koshuis of enige ander NWU geleentheid of koshuis,” voer Prof. Balia verder.
Prof Balia beklemtoon dat die verklaring wat die Studentekampusraad op Woensdag 14 September vrygestel het, die verkeerde indruk geskep het dat die primaria van haar pligte onthef is.
“Sy is nooit van haar pligte onthef nie, en is ook nie geskors nie. Haar termyn het tot ‘n einde gekom met die aankondiging van die nuwe huiskomitee op Woensdag, 14 September. Ons sal voortgaan om hierdie saak intern aan te spreek om volhoubare oplossings te vind. Die NWU is bekend daarvoor dat ons ‘n tuiste-omgewing vir al ons studente skep, en dit sal altyd ons benadering wees.”