Moenie die Legendariese Tobie Cronje by Aardklop misloop nie
In Moord met ‘n T deel Tobie die verhoog met die sepie-veteraan, Andre Lotter (Rickus in Sewende Laan) en die alsydige Ignatius van Heerden
Feesgangers wat vanjaar se Aardklop Kunstefees bywoon moet verseker nie die geleentheid misloop om die legenadariese Tobie Cronje in die verhoogproduksie Moord met ‘n T in aksie te sien nie. Cronje, een van die grootmeesters van Afrikaanse komedie, speel die rol van Klaas van der Broeken, ‘n eksentrieke lykshuisbestuurder. Gehore van regoor die land wat die stuk gesien het, het na afloop van die stuk staande applous aan Tobie en sy medespelers gegee.
Tobie het in 1974 sy filmdebuut in Elmo de Witt se Môre, môre, gemaak. Daarna het Koos Roets se Die Sersant en die Tiger Moth waarin hy sy spiere in ‘n komiese hoofrol gewys het, Kootjie Emmer, Die Rebellie van Lafras Verwey, en vele ander gevolg. Hy is ook sedert die vorige eeu ‘n bekende gesig in TV-reekse. Manakwalanners, Willem, ‘n reeks oor ‘n deurmekaar speurder, en ‘n rol in die sepie, Binnelanders, tel onder sy krediete. Die telbord wys Cronje het al in 45 films en sowat 160 verhoogproduksies opgetree. Hy is deesdae te sien as Lieb Welgehawe, die skoolhoof by Pronk Primêr in die gelyknamige stuk.
In Moord met ‘n T deel Tobie die verhoog met die sepie-veteraan, Andre Lotter (Rickus in Sewende Laan) en die alsydige Ignatius van Heerden. In die stuk sterf die popmooi winkelassistent, Leksie Pieterse se stinkryk vroetelpappie, Bakkies Barnard, in haar bed. Bakkies het nog skaars sy laaste asem uitgeblaas of sy sy jaloerse vrou, Cruella is byderhand. Die feite dui op ‘n liefdesdriehoek en dis altyd ‘n resep vir moord want Cruella is net oor haar erfporsie begaan. Die ondersoekbeampte, speurder-sersant Wihan Beyleveld stel vas dat Bakkies vergiftig is. Hy volg die spoor na die lykshuis toe waar hy met die vreemde opsigter, Klaas van der Broeken, te doen kry en waar daar nuwe vrae ontstaan. Is Bakkies regtig dood en as hy nie is nie, wie is dan die spook wat op ‘n haar na hom lyk, en wie se lyk is in die lykshuis? Maar dis nie al nie: waar pas PJ die privaatspeurder in? En hoe het die gif in Bakkies se lyf gekom?
Feesgangers durf nie hierdie skreeusnaakse “Whodunnit” misloop nie.
Moord met ‘n T word tydens die fees by Gimmies opgevoer. Optredes is soos volg geskeduleer:
8 Oktober om 09:00
9 Oktober om 16:00
10 Oktober om 13:00
11 Oktober om 13:00 & 19:30



