Dankie, William Webb Ellis!
Vier meer as twee eeue van rugbygeskiedenis en groeiende Paasnaweek-koors in Johannesburg.
Hulle sê ‘n jong man met die naam van William Webb Ellis het in 1823 ‘n sokkerbal opgetel, begin hardloop en net daar is rugby gebore.
Die eerste erkende internasionale toets is wel eers in Maart 1871 tussen Engeland en Skotland gespeel maar teen 2027 vier Wêreldrugby al reeds langer as twee eeue van die gewilde sport.
Hul huidige voorsitter, Dr Brett Robinson, moedig juis belangstellendes aan om die spel aan te neem en vra dat liefhebbers die sport koester.
Met die talle skolerugbytoernooie wat regoor Johannesburg oor die Paasnaweek aangebied word, asook die opkomende Rugby’s Greatest Rivalry-toetsreeks tussen aartsvyande die All Blacks en Suid-Afrika wat later in 2026 afskop, is die rugbykoors deesdae baie hoog.
Also read: Rugby rucks and hockey strikes fire up Jozi fests
Om hierdie rede het Caxton Local Media ‘n bietjie nader gekyk na die geskiedenis van rugby, watter skole regoor Johannesburg al Springbokke opgelewer het, en ander interessante aspekte van die sport.
Rugby-ghoeroe en redakteur van die Krugersdorp News en Randfontein Herald op die Wes-Rand, Clinton Botha, het gesê, “Soos enige sport is sekere lande maar beter as ander en een naam is veral bekend in rugby – die All Blacks.
Daar is rugby ‘n geloof soos hulle sal sê maar selfs hier in Suid-Afrika is rugby massief, só groot dat families gereeld hul naweke rondom rugby sal beplan.
Elke seun moet ook aan rugby deelneem want dit is mos … ‘in ons bloed’. Of jy nou rugby speel of nie, ons is almal betrokke by die sport op een of ander manier. Jou seun is dalk goed daarin of, jou seun se vriend se ouers nooi julle Ellis Park toe, of jou dogter trou dalk met ‘n Blou Bul of iemand in die familie en vriendekring is so behep met rugby dat wanneer jul braai en kuier word daar net oor rugby gepraat of gekyk.”

Suid-Afrikaanse rugby geskiedenis:
Die South African Rugby Board (SARB) is in 1889 gestig. Die Springbokke se eerste amptelike en erkende internasionale toets was eers in Julie 1891 in Port Elizabeth teen die Britse Leeus.
Die Bokke het wel 4–0 verloor. Dit het SA verbasend vyf jaar geneem (tot 1896) om hul eerste toetswedstryd te wen.
Dit was ook teen die Britse Leeus waar die Bokke 5–0 geseëvier het. Die Britse Leeus het steeds die reeks 3–1 gewen maar interressant het dit hulle 78 jaar hierna gevat (tot 1974) om weer ‘n reeks in Suid-Afrika te beklink. Die Springbokke en Nieu-Seeland is saam die suksesvolste rugbylande ter wêreld en spog gesamentlik met sewe Wêreldbeker-titels.
Die All Blacks het drie titels gewen, terwyl die Springbokke vier agter hul naam het. En wanneer hulle mekaar op die rugbyveld pak word dit as ‘n rugbyskouspel beskou, asook die grootste derby in die sport. Jy kry net nie beter nie.
• Bron: The Encyclopedia of Rugby Union/ Donald Sommerville/ 1997
Waar die lus vir rugby begin …
Ox Nche, Jean de Villiers, Frik du Preez, Bryan Habana, Mannetjies Roux, Victor Matfield, Bakkies Botha, Cheslin Kolbe, Jannie Engelbrecht, Heinrich Brussouw, Danie Gerber, Tendai ‘Beast’ Mtawarira, Carel du Plessis en Jan Ellis.
Dit is net ‘n handjievol name op die lang lys van uitmuntende Springbokke wat almal iewers begin rugby speel het en uiteindelik naam gemaak het.
In die begin van die jaar is verskeie TAU-, jeug-, mini- en TAG-rugbywedstryde regoor die Wes-Rand gespeel. Van Kenmare, Protearif, Mullies, Monument Primary en Curro in Krugersdorp, asook Helderkruin, Florida en Roodekrans in Roodepoort tot Westgold van Randfontein, het Caxton Local Media kleintjies op kamera vasgevang en eerstehands gesien hoe die lus vir rugby weer onder die o6- tot o8-manne geprikkel word. Dit is tog in ons bloed.
Die vaste fasette en balvaardighede is natuurlik nie op die vlak van ‘n goeie Springbok-rolmaalbeweging of ‘n asemrowende All Black-agterlynbeweging nie want vir dié seuns is dit maar net die begin.
Daar is breëborstye soos wanneer jou rooikopseun deur ‘n gaping gaan, ‘n mooi drie druk, selfs sy opponente in hul spore stuit of met trots die ‘tag’ gryp, maar dan ook tye wanneer hy verkeerde kant toe koers kies, heeltemal vergeet aan wie se kant hy is, of sommer soos Forrest Gump aanhou hardloop met die bal tot in die parkeerterrein. Intussen is al wat ‘n afrigter en ouer byderhand om óf iemand op te tel, ‘n traan af te vee, ‘n pleister op te plak of ‘n broek op te trek wat klaar te klein geword het.
Die oorsprong van TAU- en TAG-rugby:
Louis Britz, wat destyds op die Goue Leeus Laerskole Rugby Unie (GLLRU) se dagbestuur gedien het, het oor die geskiedenis van TAU- en TAG-rugby gesels en die junior strukture van die GLRU verduidelik.
“TAU-rugby (Zulu-woord vir welpie/ leeu) is die amptelike naam nadat dit eers Welpie-rugby genoem is. Dit is ‘n afstammeling van minirugby wat in 1970 in Engeland ontwikkel is om jonger spelers aan rugby bloot te stel. Elke land het sy eie formaat van minirugby aangepas en in SA is daar in die laat 90’s besluit om daarmee te begin. Elke unie het ook sy eie formaat van die spel, en almal se reëls is nie presies dieselfde nie.
“In die vroeë 2000’s het die skole in die Leeus-streke die Valke [Valkie-rugby] se minirugby begin speel. In 2007 is met Welpie-rugby in die Leeus-streke begin, en meer skole het daaraan begin deelneem. In 2008 het dit ‘n amptelike been van die Goue Leeus Laerskole Unie geword, en die naam is toe verander na TAU-rugby wat gebaseer is op die Blou Bulle Rugby Unie se Bulletjie-rugby. Van daar af het dit gegroei tot ‘n unieke spel,” het Louis verduidelik.
TAG-rugbyspelers het Velcro-bande om hul lywe waaraan linte aan weerskante aan hul sye geheg word. Aangesien volle kontak nog nie die kleintjies beskore is nie, pluk spelers hul opponente se linte af in plaas daarvan om hulle te lak.
“Dié vorm van die spel is in die 1980’s in Gibraltar ontwikkel omdat daar nie grasvelde was nie. Matrose wat die spel daar gespeel het, het dit toe in Engeland laat posvat. Nick Leonard, ‘n LO-onderwyser het reëls vir TAG-rugby in 1990 ontwikkel en die eerste toernooi is in 1991 gehou. Dit is later vir die o6-seuns gebruik om kontak te vermy. Ons o6-seuns speel tans TAG, en die 07’s en o8’s speel TAU (kontak). Daar is om en by 200 skole in die Leeus-streek wat aan TAU-rugby deelneem.”
Oor die strukture het Louis gesê, “Die junior afdeling van die GLRU word deur die GLLRU bestuur. Skole neem deel aan TAU-rugby en is meestal ouergedrewe, maar dis nie verpligtend nie. Daarna speel die o9’s, o10’s, o11’s, tweedes (o12’s en o13’s) en die eerstes volle 15-man rugby met reëls wat aangepas is vir laerskole. Daar is provinsiale spanne vir o12- en o13-seuns, wat dan in die Junie-vakansie aan provinsiale toernooie deelneem, net soos die hoërskole se spanne.”

Louis was toe in sy noppies met die besluit dat die GLLRU in 2022 die gesogte Cravenweek-toernooi vir o13’s aangebeid het en vir die eerste keer in 15 jaar was dit terug op die Wes-Rand toe Hoërskool Monument in Krugersdorp die gasheer was.
Meer as 800 spelers, wat hul onderskeie unies van regoor die land verteenwoordig het, het vanaf 27 Junie kragte gemeet om te bepaal wie op 1 Julie as die o13-rugbykonings gekroon sou word. Wenners was hoeka die Goue Leeus wie se brul te groot was vir Boland met ‘n eindtelling van 24–7.
Pieter Visser, algemene bestuurder by die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) het bygevoeg deur te sê dat dit vir hom belangriker is dat die kinders eers die spel moet speel en dit geniet. Daar kan later na die detail van die spel gekyk word.
Wie weet, miskien draf jou rooikopseun eendag vir een van ons URC-spanne, die Franse Top 14 of selfs die Springbokke uit.
Pieter de Villiers van Khosa Rugbyklub se jeugvoorsitter het verder gedeel, “TAU-rugby gaan daaroor om die ouens so vinnig as moontlik in die spel te kry en samehorigheid te kweek. Vir ons as ‘n klub is dit belangrik om ou rugbytradisies aan die lewe te hou. Nie elke ou gaan ‘n Springbok word nie maar die sport het ‘n manier om die seuns op te voed. Elke kind moet behandel word soos ‘n Superstêr. Die pelle wat jy maak … rugby het net ‘n manier om vriendskappe te smee.
“As voorsitter is dit belangrik om outjies betrokke te kry. Ons probeer ‘n tipe mentaliteit kweek dat jy dit vir die pret doen. Jong seuns is te maklik op die fone. Ons probeer om hom in ‘n spanverband te kry, aktief te wees. Enige sport, spesifiek rugby, berei jou selfs voor vir die stampe en stote in die lewe; dit leer jou hoe om te wen en te verloor. Nie elke Springbok het by TAU-rugby begin nie maar dit het ‘n plek.
Dit het basies destyds ‘tuinrugby’ vervang. Waar ons vier ure lank in die erf gespeel het, is TAU-rugby meer georganiseerd en gestruktureer. By Khosa is afrigting belangrik en as jy ‘n jong outjie op ses-, sewe- en agtjarige ouderdom reeds die regte vaardighede kan leer, kan dit die grondslag lê vir later. Hoe vinniger hoe beter.
“Ons het ‘n jeugafdeling en begin reeds met sesjariges. Covid-19 het wel rugby seergemaak, maar soos ‘n speler op die veld platgetrek word, sal ons net weer moet opstaan, jouself afstof en voortgaan.”

Doelwitte van TAU-rugby:
• Om jong seuns ‘n voorsmakie van 15-man rugby te gee
• Om basiese rugbyvaardighede te ontwikkel
• Om ‘n passie vir rugby te ontwikkel
• Om selfvertroue met vaardighede te ontwikkel
• Deelname eerder as wenmotief
• Ouer betrokkenheid, veral op afrigtings- en skeidsregtersvlak
• Om alle spelers, ongeag hul vaardighede kans te gee om te speel
• Span in plaas van die individu
• Indiwiduele ontwikkeling van spelers
Rugby op die Wes-Rand:
Die afgelope paar jaar is verskeie TAU-, jeug-, mini- en TAG-rugbywedstryde regoor die Wes-Rand gespeel en het die Herald/ News/ Record/ Northsider spelertjies van plaaslike skole en selfs klubs op kamera vasgevang en eerstehands gesien hoe die lus vir rugby onder die o6 tot o8-mannetjies geprikkel word.
Tydens Laerskool Muldersdrif se jaarlikse mini-sport dag byvoorbeeld is daar gereeld honderde rugbyseuns in aksie en die skool se TAU-rugby organiseerder Mathew du Toit het verduidelik dit word Tau-Rugby genoem, maar ander ken dit ook as bulletjie- of welpierugby.
“Tau-Rugby is ‘n sport waar seuns van respek, spanwerk, karakterbou, konsentrasie, kompetisie en genot kan leer. Ons streef daarna om die seuns maksimaal betrokke te kry en geleenthede te bied om met die bal te speel en om sy indiwiduele vaardighede te ontwikkel en die basiese beginsels van rugby te verstaan sodat die leerder vinnig en doeltreffend kan aanpas sodra die geleentheid vir 15-man rugby voor kom.
“Dit is verseker ‘n feit dat almal in die lewe wat nog ooit sukses bereik het ook net iemand was wat probeer het. Daar is geen persoon wat ‘n oggend kan wakker word en die beste was in enige iets sonder om eers baie hard te werk en baie jare te oefen nie. Tau-Rugby is verseker die begin van baie Springbokke en professionele rugbyspelers se rugby-loopbaan omdat dit die ideale geleentheid is om die spelers se passie vir die sport te ontwikkel.”

Die Wes-Rand se Bokke:
Daar is natuurlik ‘n trotse rugbytradisie op die Wes-Rand wat Roodepoort, Krugersdorp en Randfontein insluit met ‘n hele paar Springbokke wat uit verskeie plaaslike skole opgelewer is.
Een hoërskool spog met nie nét die meeste nie, maar word ook beskou as ‘n top rugbyskool in Gauteng.
• Hoërskool Monument High School – Jaque Fourie, Jorrie Muller, Christo Wagenaar, Brendan Venter, Heinke van der Merwe, Willem Alberts, Julian Redelinghuys, Ruan Dreyer en Jaco Taute. Gert Peens het vir Italië se nasionale rugbyspan uitgedraf
• Bekker – Piet Botha, Dave Frederickson, Johan Strauss en Marco van Staden
• Florida – Wahl Bartmann, Elton Jantjies en Joseph Dweba
• Roodepoort – Adriaan Richter en Fritz van Heerden
• Bastion – Rudy Paige
• Krugersdorp High School (KHS) – Jan Lotz
• Jan de Klerk – Fanie Kuhn
• Randfontein High School (RHS) – Alf Walker
• Riebeeckrand – Lofty Nel
• Jan Viljoen – Johnny Buchler• Bron: South African Schoolboy Rugby (2008) & www.genslin.us (now https://bokhist.com/)
Nog Bokke uit ander Johannesburgse skole (Noorde, Ooste en Suide):
• St John’s College – Owen Nkumane
• King Edward VII School (KES) – Henry Forest, Joe van Niekerk, Bryan Habana, Scarra Ntubeni en Malcolm Marx
• Jeppe High School – Des Sinclair, Wilf Rosenberg, James Dalton, Brent Moyle en S’bu Nkosi
• St Stithians College – Lance Sherrell en Brent Russell
• Hoërskool Helpmekaar – Frans van der Ryst en Thys Burger
• Hoërskool Brandwag – Gerrie Germishuys en Johan Ackerman
• Bron: South African Schoolboy Rugby (2008) & www.genslin.us (now https://bokhist.com/)



