Nasionale ontwikkelingsplan verhoog afhanklikheid van die staat
AfriSake analiseer die nuwe Nasionale Ontwikkelingsplan tydens sake-ontbyt.
Ekonomiese desentralisering en ‘n afwentel van staatsfunksies na die privaat sektor is ‘n beter voorstel as die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).
Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, is dit die oplossing vir Suid-Afrika se sosio-ekonomiese uitdagings.
As deel van AfriSake se bewusmakingsveldtog oor die NOP het die organisasie tydens ‘n sake-ontbyt dié plan grondig geanaliseer.
Gassprekers het ingesluit John Kane-Berman van die Instituut vir Rasseverhoudings, en Piet le Roux, senior navorser van die Solidariteit Beweging.
Verskeie teenstrydighede en wyses waarop die regering deur die NOP staatsafhanklikheid wil verhoog, is tydens die geleentheid aangetoon.
Volgens Kane-Berman beoog die NOP om 11 miljoen nuwe werksgeleenthede in Suid-Afrika te skep, maar voorsien dat die privaat sektor ‘n minimale rol hierin sal speel.
Dit beteken dat sakelui en entrepreneurs se rol in die ekonomie sal verskraal. Verder meen Kane-Berman dat die plan ‘n verhoogde belastinglas vir Suid-Afrikaners inhou wat die plan onbekostigbaar maak.
Volgens Le Roux, is dit kommerwekkend dat die NOP nie ag slaan op die suksesse van die privaat sektor in onderwys- en gesondheidsdienste nie.
Sentralisering en groter staatsbeheer word eerder as oplossings vir byvoorbeeld die land se swak onderwys- en gesondheidstelsels beskou.
“Die beoogde inperking van eiendomsreg en die aftakeling van ‘n onafhanklike regbank is genoeg rede om ernstige voorbehoude oor die NOP te hê,” vertel Le Roux.
Die plan voorsien ook toenemende fokus op bemagtiging as vorm van opheffing en ekonomiese deelname. Dit terwyl die praktyk toon dat dit ‘n blote dekmantel vir selfverryking van die politieke elite is.
Volgens Jansen van Rensburg is die enigste langtermynoplossing vir armoede en opheffing die skep van werksgeleenthede deur entrepreneursaktiwiteite.
“Daarom is dit uiters noodsaaklik dat individue vanuit alle gemeenskappe as volwaardige entrepreneurs tot die ekonomie toetree sonder om afhanklik van die staat vir sakegeleenthede te wees,” vertel Janse van Rensburg.



