Local newsNews

Skuldvlakke mag prysstygings rem

Die prys van eiendom kan weens 'n tekort aan voorraad styg in 2014.

“Huispryse gaan na verwagting in 2014 weens ‘n tekort aan voorraad styg, maar prysstygings gaan getemper word deur verbruikers se vermoë al dan nie om eiendom te bekostig.”

Dit die woorde van Richard Gray, uitvoerende hoof van die Harcourts-eiendomsgroep.

“Daar was ‘n jaar gelede ‘n ooraanbod van eiendom maar dit is nou meestal opgeneem, veral in metropolitaanse gebiede, en ons ervaar inderdaad op die oomblik ‘n tekort aan huise te koop in die mees gewilde voorstede,” sê Richard.

Hy meen dat die vraag grootliks gestut word deur toenemende getalle eerste kopers wat die mark betree en dit gee bestaande eienaars die geleentheid om op te gradeer of na ander gebiede te verhuis.

“Daar was egter ook heelwat beweging in die luukse mark gedurende die afgelope jaar, met welgestelde verbruikers wat klaarblyklik besluit het dit is die aangewese tyd om eiendom ter waarde van etlike miljoene te koop voordat prysstygings in alle erns hervat,” vertel Richard.

Toenemende tekorte aan voorraad gaan beslis pryse oor die volgende 12 maande laat styg ondanks die feit dat ontwikkelaars toenemend na die mark terugkeer.

“Boukoste is hoog en volgens Absa is dit nou sowat 37 persent duurder om ‘n nuwe huis te bou as wat ‘n soortgelyke bestaande huis gaan kos. Al sou ‘n ontwikkelaar dus nuwe voorraad na ‘n voorstad bring, sal die nuwe eenhede waarskynlik duurder as omliggende huise wees en dus nie plaaslike huispryse onderdruk nie,” vertel Richard.

Hy sê egter Harcourts verwag dat verkope, en dus pryse wel in 2014 deur bekostigbaarheid gerem gaan word.

“Die heersende siklus van lae rentekoerse maak eiendom natuurlik meer bekostigbaar en finansiële instellings toon klaarblyklik nou ook groter belangstelling in die huisleningmark.”

“Maar huishoudelike skuldvlakke bly hoog en dit beperk banke se vermoë om lenings toe te staan aangesien bestaande skuldverpligtinge voornemende kopers se besteebare inkomste verlaag en dit raak die omvang van die huislening waarvoor hulle kwalifiseer.”

“Kopers wat nie vir die lening wat hulle nodig het om ‘n spesifieke huis te koop, kwalifiseer nie moet dus enersyds hul planne uitstel terwyl hulle hul skuldvlakke verlaag en ‘n groot genoeg deposito spaar, of andersyds hul visier laat sak en goedkoper eiendom teiken,” vertel Richard.

“Banke het terselfdertyd belang daarby dat nuwe huiseienaars nie negatiewe ekwiteit in hul huise het nie – soos wat inderdaad die geval was na die 2009 resessie en die gevolglike ineenstorting van eiendomspryse en instellings bly dus konserwatief met betrekking tot waardasies voordat lenings toegestaan word en dit gaan prysstygings verder strem.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button