Laat jou agente kontantreserves naspoor
Aangesien huiskopers nou vooraf goedkeuring vir huislenings kan kry, is dit belangrik dat huisverkopers moontlike kopers se kontantreserves naspoor.
Dis uitstekende nuus dat huiskopers nou weer vooraf goedkeuring vir huislenings kry, maar verkopers moet seker maak dat kopers ook genoeg kontant byderhand het om enige vereiste deposito en meegaande transaksiekostes te dek.
Dit is die raad van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat daarop wys dat meer as 60 persent van kopers nou slegs ‘n huislening kan bekom as hulle ‘n deposito van 10 persent of meer van die koopprys kan betaal – en dat dit ‘n aardige bedrag kontant kan wees.
“Daar is ook bykomende kostes verbonde aan ‘n kooptransaksie, insluitende waardasiefooie, registrasiekostes, regskostse, heffings deur die aktekantoor en – op enige huis ter waarde van meer as R600 000, oordragkostes,” vertel Berry.
Dié koste sal, byvoorbeeld, sowat R50 000 op ‘n huis ter waarde van R1 miljoen beloop.
“Boonop word die meeste van dié koste op ‘n glyskaal bereken en hoe duurder die eiendom, hoe hoër die transaksiekoste, wat meebring dat selfs kopers wat voorsiening daarvoor gemaak het die ware bedrag mag onderskat,” vertel Berry.
Hy sê die transaksie kan lank uitgerek word of selfs deur die mat val indien kopers nie die deposito of ander kostes kan betaal wanneer dit aangevra word nie, wat ernstige finansiële probleme vir verkopers kan meebring.
Berry skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat verkopers wat byvoorbeeld reeds ‘n nuwe huis gekoop en ingetrek het veel langer as wat hulle verwag het vir die betaling van twee verbande aanspreeklik kan wees terwyl hulle die ou eiendom weer bemark.
“En selfs al het hulle nog nie verhuis nie, sal hulle houkostes soos grondbelasting op die eiendom moet betaal vir ‘n langer tydperk as wat hulle verwag het,” vertel Berry.
“Die ergste is dat hulle mag vind dat die eiendom nie aftrek onder kopers kry nie omdat dit reeds voorheen bemark is en dus nie meer ‘n nuwe vrystelling is nie en dat hulle laer aanbiedinge as voorheen mag ontvang.”
Maar, volgens Berry is dit ooglopend moeilik vir verkopers om insae in voornemende kopers se finansiële sake te kry.
Dis waarom hulle dit ‘n voorwaarde van hul mandaat moet maak dat dié verpligting op die eiendomsagent rus.



