Local newsNewsUpdate

Totsiens oom Hennie

'Hy het sy alles vir die dorp en sy mense gegee'.

Duisende mooi en gevleulde woorde is nie genoeg om oorlede oom Hennie Schoonwinkel te beskryf nie.

Die dorp het hierdie week die nuus ontvang dat ‘n Randfontein-legende, oom Hennie op 21 Januarie en 85-jarige ouderdom sy jarelange stryd teen kanker verloor het.

Randfonteiners het op Woensdag (28 Januarie) hom finaal totsiens gesê tydens ‘n erediens in die AGS Randgate Kerk. Hy is daarna by die Greenhills Begraafplaas tot ruste gelê.

As ‘n laaste huldeblyk aan die man wat sy lewe vir Randfontein gegee het, het die herald ‘n bietjie meer oor sy lewe uitgevind.

Amper almal het oom Hennie se biscuit-kleur Datsun bakkie geken, maar niemand het hom so goed geken soos sy weduwee Ria nie.

Hendrik Jacobus Albertus Schoonwinkel is op 28 November 1929 op Wonderfontein in Randfontein gebore. Hy was toe in Laerskool Kocksoord (nou Avanté) waarna hy Jan Viljoen toe is.

Na skool het hy sy ambag in teëllê voltooi en sy eie besigheid, HJA Schoonwinkel Teël Kontrakteur begin. Kort daarna het oom Hennie as Raadslid vir Wyk 3 by die Stadsraad van Randfontein opgetree vir die volgende 21 jaar.

In dié tyd was hy burgemeester vir drie termyne, onderburgemeester vir sewe termyne en ondervoorsitter van die Bestuurkomitee vir vier termyne. Hy het ook op verskeie komitees gedien soos medies, verkeer, elektries en museum. Hy was lid van die Randfontein Vriendskap Rusoord-komitee vanaf 1967 en het vir 32 jaar lank op die skoolkomitee en toe later die Bestuursraad van Laerskool Kocksoord gedien.

Oom Hennie was ook lid van die Suid-Afrikaanse Polisie Reserwemag vir 31 jaar met die rang van kaptein. Daar is te veel rade waarop hy gedien het en medaljes en toekenings wat hy verower het om een vir een te noem, maar dit getuig van die toewyding wat oom Hennie vir Randfontein gehad het.

“Hy het sy alles vir die dorp en sy mense gegee. Sy lojaliteit en liefde het nog altyd daarin gelê om sy medemens te dien. Nooit het hy gehuiwer om iemand in nood te help nie,” het Ria vertel.

Ria het ook vertel hoe haar geliefde man elke onthaaltoelaagbetaling wat hy as burgemeester gekry het, gebruik het om kos en komberse vir mense in nood te koop.

“Hy het ook by die ryk mense komberse en kos gaan vra wat hy dan weer net so aan armes gaan gee het. Hy was trots om sy dorp en die mense te dien en het altyd tyd gemaak vir almal wat hom nodig gekry het. Hy het net altyd die beste in mense raak gesien.”

Oom Hennie en Ria het mekaar geken van laerskool af en was meer as 60 jaar saam.

“Hy was my eerste en enigste liefde, my steunpilaar, my alles. Hy was vir meer as 60 jaar die middelpunt van my aardse bestaan en ek sal hom elke oomblik van elke dag mis,” het Ria gesê.

Sy dogter Sandra het vertel hoe haar pa altyd geloop en liedjies sing het, partymaal sommer sy eie wysie en woorde.

“As ons hom geterg het daaroor of oor iets anders snaaks wat hy gedoen het, het hy altyd gesê: ‘Julle sal my mis’.”

Volgens ma en dogter was daar baie sulke sê goedjies wat oom Hennie altyd kwyt geraak het.

“Ons onthou dat hy ons geleer het van die Vaderhart van God – vergewe gou, betaal jou tiende, saai in God se Koninkryk en gaan getrou kerk toe. Alles beginsels wat hy self toegepas het,” het Sandra vertel.

“Vroegoggend is ons as kinders met ‘n soen op die voorkop wakker gemaak. Niks het deur die jare verander nie. ‘n Welkome telefoonoproep met mooi wense vir die dag, elke dag, vakansie dae ook!” het Marietjie, sy ander dogter vertel.

Die laaste paar jaar het oom Hennie en Ria by die Renaissance Aftree-oord gebly wat Ria as die gelukkigste tyd van haar lewe beskryf. Hy het elke oggend saam met die “kierie-bende” elke persoon gaan groet en gehoor hoe dit met hulle gaan. Met die terugkeer huis toe het hy elke dag of ‘n blom of perske of ietsie vir Ria terug gebring met al die nuus van die mense af.

Oom Hennie het sy pelvis gebreek met ‘n val en het goed herstel na die ongeluk maar na ‘n paar maande het hy agteruit begin gaan. Sy niere en hart het begin ingee en hy was vir ‘n tydjie in die Netcare Krugersdorp Hospitaal. Hy is daarna weer huis toe, waar hy oorlede is.

“Hy was die beste en liefste man vir my, ‘n wonderlike pa vir ons twee dogters en ‘n besonderse oupa vir ons vier kleinkinders. Hy het aan die einde geweet sy tyd is naby en het dit gebruik om almal te groet. Ek het niemand wat wou kom inloer toe hy so siek was weggewys nie want ek het geweet die mense van Randfontein was sy lewe en dit het hom die gelukkigste gemaak.

“Ons het alles saam gedoen en gedeel en dit is waarom ons familie glo om hom en sy lewe te vier. Ons is nie spyt oor enige iets nie, net dankbaar vir al die wonderlike jare saam met ‘n opregte wonderlike mens.”

Ria bedank haar familie en vriende wat by haar gestaan het deur die moeilike tyd.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button