Local newsNews

Mieliemeel vir kieskeuriges

'Ons is toegespits op fantastiese diens en sien al ons klante as die belangrikste ketting in ons suksesverhaal.'

C & J Rollermeule is al ‘n bekende naam onder kieskeurige mieliemeelverbruikers in Randfontein en omliggende gebiede.

Die meule is nagenoeg 15km buite die dorp op die Plaas Witfontein 262 (R41 Venterdorp-pad, links by R500 T-aansluiting) en is bekend vir hulle bobaas mieliemeel wat nog op die goeie ou manier gemaak word.

Pa en seun Chris en Johan Nolte het 24 jaar gelede die meule begin en het oor die jare mieliemeelvervaardiging bemeester. Na Chris se afsterwe is Johan en sy vrou Riete in beheer van die meule, en het ‘n lojale span werkers waarop hulle kan staatmaak.

Johan verbou met trots al die mielies wat by die meule verwerk word en glo net die beste is goed genoeg vir sy klante.

Hulle weet een van die belangrikste aspekte van mielieverbouing is dat die regte kultivar gekies moet word en dit wys in die kwaliteit mielies wat op hulle plaas gekweek word.

Die meule gebruik 100-jaar-oue Robinson-rollers om die mieliepitte te verwerk en haal nie soos ander produsente die hartjie van die mieliepit uit nie. Nadat die mieliepitte van die stronk afgehaal en gewas is, word die semeldoppie verwyder en dan deur ‘n totaal van ses verskillende rollers gestuur, afhangende van die tipe meel wat verlang word.

Daarna word dit in hulle silwerskoon verpakkingsarea in die verskillende gewigsakke gegooi. Dit is duidelik in die smaak dat C & J Meule met trots ‘n produk propvol voedingswaarde aan hulle klante bied.

By die meule self het Riete se span al soos haar kinders geword.

“Ek gee baie aandag aan ons werkers se fisiese en emosionele gesondheid en glo dat ‘n gelukkige werker ‘n lojale werker is. Ek kon nie vir ‘n beter spannetjie gevra het nie en waardeer die ywer waarmee hulle elke dag werk toe kom,” het Riete gesê.

Die besoekersboek vertel ‘n verhaal van puik diens en klante wat vir jare bankvas agter die meule staan.

“Ons is toegespits op fantastiese diens en sien al ons klante as die belangrikste ketting in ons suksesverhaal. Ek glo dit is hoekom hulle altyd terugkom na ons toe,” het Riete bygevoeg.

Die atmosfeer by die meule is soos om vir familie te gaan kuier . Riete en haar span staan altyd met ‘n glimlag gereed om te help. As jy dus nog nie pap van die beste mieliemeel in die dorp geproe het nie, gaan maak gerus ‘n draai daar en beleef dit self.

• Navrae: C & J Rollermeule by 011 416 3310.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button