Rierand se sprokiematriekafskeid
Een van die "motors" was 'n inkopietrollie wat met liggies versier was.
Hoërskool Riebeeckrand se matrikulante het op Vrydag 21 Augustus hul matriekafskeid by Usambara gehou met die tema: A Night in Paris.
Die matrikulante het almal spoggerig gelyk en die motors waarmee hulle by die matriekafskeid opgedaag het, het die toeskouers se asems weggeslaan. ‘n Paar motors wat uitgestaan het was ‘n Rolls Royce, ‘n VW Karmann Ghia, ‘n Ford Mustang, ‘n Pantserwa en ‘n inkopietrollie wat met liggies versier was.
Volgens Beyers Steyn en sy metgesel Nerissa Nagel sal hulle die glansgeleentheid nooit vergeet nie.
Veral die onderwyser en adjunkhoof, Cassie van der Walt se toespraak was ‘n hoogtepunt.
Die matrikulante het die aand omgedans en heerlik gekuier en gesmul aan ‘n driegang maaltyd. Hoërskool Riebeeckrand se skoolhoof, Annelize van den Berg het gesê Rierand het werklik die mooiste leerlinge en sy is baie trots op al die matrikulante.
Daar was ‘n dogter wie se rok van die VSA af ingevoer is en daar was ook dogters wie se rokke deur die bekende ontwerper Peter Bondesio en Anél Botha Couture gemaak is.



