Opkomende kunstenaar, 19, droom groot
Ontmoet 'n jong opkomende en passievolle kunstenaar wat beoog om geskiedenis te maak in die musiekbedryf.
Maryna Booysen van Hillside kan beskryf word as passievol, positief en hardwerkend.
Om te sing was nog altyd een van haar grootste passies.
Maryna, 19, is ‘n jong opkomende kunstenaar wat net wil sing. Sy het vertel dat sy nog altyd gedroom het om voor ‘n groot saal vol mense te sing en voor sy haar oë kon uitvee, is haar droom bewaarheid.
Ek sing sedert ek 14 is. Van my laerskooldae af was my droom om te sing, maar aangesien ek nie nootvas was nie, het ek hulp nodig gehad,” het sy vertel.
Maryna het by ‘n musiekskool aangesluit waar sy haar talent verder ontwikkel het. Al is haar gunsteling genre rock, sing sy graag enige tipe musiek. Sy het reeds by verskeie klein kunstefeeste opgetree asook by die Boomhuisie-restaurant in Krugersdorp met Mad Events as haar agent. Sy het selfs onlangs aan die Tomené Venter X-factor in Carletonville deelgeneem waar sy derde geëindig het.
Maryna laat ook nie gras onder haar voete groei nie, aangesien haar eerste enkelsnit, Black and white reeds van Spotify en iTunes afgelaai kan word.
“Dit gaan nie vir my oor die roem nie, dit gaan oor die liefde vir sing. Ek beoog om geskiedenis te maak; my stem is uniek en ek wil dit gebruik,” het sy vertel.
Sy gaan in Desember by verskeie plekke optree soos by Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs, die Krugersdorp Rugbyklub asook die Jakaranda Kinderhuis se Liggiefees in Pretoria.
Ten slotte het Maryna vir Adele, bekende Britse sanger en liedjieskrywer so aangehaal: “Ek maak nie musiek vir oë nie, ek maak musiek vir ore”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



