Held wat destyds ‘n ramp voorkom het is oorlede
Held wat in 1973 lewens gered het tydens 'n ontploffing in Westonaria sterf op 77.
Jac Theunisz, 77, ‘n vername voormalige besigheidsman en held wat destyds lewens gered het tydens ‘n ontploffing in Westonaria is Vrydag, 6 Januarie oorlede.
Sy seun, André Theunisz, 47, het aan die Herald vertel dat sy pa die vorige dag vir hom gesê het hy voel nie goed nie. Die Vrydagoggend het hy vir André gesê dat hy nie beter gevoel het nie en Andre het voorgestel dat sy pa dokter toe gaan.
Toe André hom teen 5nm geskakel het, was daar geen antwoord nie. Hulle het sy vriendin gevra om te gaan kyk hoe dit met sy pa gaan en sy het in sy huis op sy lyk afgekom.
Jacques was ‘n diabeet met hartprobleme, en die dokter het glo die spesifieke dag gesê dat sy pa se suiker hoog was.
“Ons vemoed dat dit ‘n hartaanval was,” het André gesê.
Jacques is in die suidooste van Nederland in Venlo gebore en het daar grootgeword. In 1959 is hy weg uit Nederland en het in Randfontein gaan woon waar hy vir ongeveer sewe jaar in ‘n myn gewerk het. Daarna het hy tot die betonbedryf toegetree en het in 1981 die besturende direkteur van Monkreet Mure in Chamdor geword.
Hy het ook ‘n besigheid in Aureus begin, en was later die eienaar van Timbercity. Daarna het Jac ‘n ‘snuffelplaas’ tot in 2006 bedryf. Hy het na sy aftrede vier jaar lank in Plettenbergbaai gewoon, en is in 2010 terug Randfontein toe.
Jac was baie bekend in Randfontein, waar hy ‘n erelid van die Connie Mulder Sentrum was. Hy was die laaste oorblywende lid uit die tagtigerjare. Jac het een seun, André en ‘n dogter, Anke Anderson, 51. Hy het een kleindogter, Sjanelle Bottger, 28.
Jac was ‘n baie nederige mens, en sy groot liefde was om ‘n verskeidenheid oudhede te versamel. Hy was tot met sy dood baie onafhanklik, en het sy eie huiswerk gedoen.
Sy suster Aag van Baden, 80, en broer, Harrie Theunisz, 75, woon albei nog in Nederland.
Die gebeurtenis wat uitstaan in Jac se lewe is toe hy op 27 Junie 1973 in Westonaria ‘n ramp voorkom het toe ‘n elektriese fout in ‘n dinamietvragmotor ontstaan het en ‘n vonk aan die agterkant gevorm het. Jac het dit raakgesien toe hy verby gery het. Hy het die bestuurder en die medebestuurder gewaarsku en het so hul lewens gered. Hy kon ook ‘n vrou met kleuters in haar voertuig waarsku. Terwyl sy teëgestribbel het, het die trok ontplof. Die ontploffing is tot in Randfontein gehoor en was so groot dat die krukas van die vragmotor vyf kilometer verder gevind is.
Een van Jac se wense was om die kleuters te ontmoet wat daardie dag in die voertuig was.
André is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat die gesin na sy pa se afsterwe van vriende en familie ontvang. Hy bedank graag vir Tannie Poppie Wolters, Mapogo Sekuriteit, Netcare 911 en Martin’s Funerals.
Jac se begrafnisdiens gaan privaat gehou word.
Lees ook
Seun se hartroerende boodskap aan oorlede pa



