OPVOLG: Baba Andries oorgeplaas
Gemeenskap se hulp benodig vir die klein vegtertjie, Baba Andries.
Baba Andries van Vollenhoven is na ‘n staatshospitaal oorgeplaas aangesien die gesin nie die koste van ‘n privaat hospitaal kan dek nie.
Sy ouers, Leandri, 24, en Gerrit van Vollenhoven, 31, het nooit gedink dat daar probleme met hul baba se geboorte sou wees nie. Alles het normaal gelyk. Klein Andries is egter Sondagoggend, 8 Januarie met ‘n noodkeiser in die wêreld gebring aangesien die naelstring twee keer om sy nekkie gedraai was. Gedurende sy ma se swangerskap is daar ook agtergekom dat sy hartjie met rukke opgehou klop het.

Gert en Leandri het met verskeie probleme sedert Andries se geboorte te kampe gekry. Hul mediese fonds betaal glad nie vir die intensiewe sorg wat hul seuntjie in die privaat hospitaal ontvang het nie. Hy was tot 30 Januarie in Robinson Life Privaat Hospitaal in die neonatale intensiewesorgeenheid (NISE) nadat die hospitaal hulle 30 dae grasie gegee het om die geld bymekaar te kry.
Die Herald het berig dat as sy ouers nie finansiële hulp ontvang nie, Andries na ‘n staatshospitaal oorgeplaas sou word. Sy familie was egter bekommerd dat hy nie die nodige behandeling betyds daar sou kry nie.
Die dokter by die staatshospitaal wou egter nie vir Andries die Maandagnag opneem nie, het Leandri vertel. “Na ‘n lang gesukkel is ons na 3vm huis toe. Ons moes toe weer wag vir ‘n ambulans om hom na die Rahima Moosa Mother and Child Hospital in Johannesburg oor te plaas. Hy is net na 6vm in dié hospitaal opgeneem.” Hulle is tot dusver tevrede met die behandeling.
Leandri het ook vertel dat Andries in ‘n stadium ‘n tekort aan suurstof gehad het, maar die NISE-personeel het hom gelukkig bygekry. Daar sal later bepaal kan word of hy enige breinskade opgedoen het, maar Leandri en Gerrit is vol vertroue dat dit nie die geval is nie. Sy het gesê dat hoewel Andries sukkel om te sluk, hy andersins normaal lyk.
Die gesin het gesê dat hulle baie dankbaar teenoor die Here is dat hulle seuntjie so ver gevorder het. Hulle bedank ook graag die gemeenskap, familie en vriende vir al hulle bystand.
Aangesien die kostes van die NISE by Robinson Hospitaal derduisende rande beloop, is die Child Medi Organisasie tans besig om fondse in te samel om die koste te dek.
Nadia de Waal, Child Medi-woordvoerder het gesê, “Ons vra die hele gemeenskap om ons te help om genoeg fondse in te samel om die gesin te help met die kostes wat hulle nou moet betaal. Vir enige verdere inligting of om ‘n donasie te gee, kan Child Medi se Facebook-blad besoek word.” Die bankbesonderhede is op die Facebook-blad en op hul webwerf by www.childmedi.org.
Melanie van Staden, bemarkingskoördineerder van Life Robinson Hospitaal het die volgende kommentaar op 1 Februarie in Engels vir die Herald gestuur, “Due to our patient confidentiality policy we are unfortunately unable to provide any further information”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Lees ook:
Baba Duncan vorder goed na operasie
Van ons Redakteur:
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



