Jong paartjie in gru-ongeluk: Kêrel sterf
Jong paartjie in gru-ongeluk wat 'n lewe geëis het glo op pad na Soweto nadat hulle by 'n partytjie was.
Die betrokkenes in die gru-ongeluk in Hillshaven, Westonaria wat die afgelope naweek ‘n lewe geëis het, was ‘n jong paartjie wat van ‘n partytjie afgekom het.
So het die 19-jarige meisie aan reaksieoffisiere van Insideout Sekuriteit – wat glo eerste op die toneel was – verduidelik. Sy is steeds in die Chris Hani Baragwanath Hospital in Soweto nadat sy ernstige beserings opgedoen het. Haar kêrel is tragies op die toneel dood verklaar.

Annine Dormehl, ER24-woordvoerder, het in ‘n verklaring gesê die bestuurder het beheer oor die voertuig om ‘n skerp draai verloor. Die voertuig het toe by ‘n wal afgerol en teen ‘n boom tot stilstand gekom. Die insident het omstreeks 2.20vm op Sondag, 5 Maart gebeur.
Delano Dobson, 21, een van die reaksieoffisiere eerste op die ongelukstoneel het vertel: “Ek was aan diens en onder by die valhek toe ek ‘n slag hoor en die krag sien uitgaan het. Ek het vir Eben (Eben Dobson, 38) in kennis gestel. Op daardie stadium het ons gedink dit is misdadigers wat kragkabels steel.”

Eben vertel verder, “Net toe ons ondersoek wou instel, hoor ek ‘n vrouestem wat om hulp skreeu. Ek en Delano het dadelik gaan kyk waar die stem vandaan kom.” Delano sê dat hulle toe op ‘n motor afgekom het wat in ‘n boom vasgery het. Daar het hulle ‘n 19-jarige meisie in nood gevind. Die bestuurder van die motor, haar beweerde kêrel, het oor haar skoot, halfpad by die venster uit, gelê.

Nog ‘n Dobson, Babba, het daarna op die toneel verskyn. Hy sê dat die man eers nog lewendig was, maar kort daarna het hy begin ruk, toe beswyk hy aan sy beserings.
Eben sê, “Ek was van die begin tot die einde by die meisie. Sy het vasgesit in die motor, waar haar regterarm vreemd gedraai was. Sy wou die hele tyd uit die motor klim, maar ons het vir haar gesê sy moet nie probeer beweeg nie en dat sy kalm moet bly.”

Tussendeur het Delano en Eben ook die kragkabels van die pad af verwyder aangesien dit net nog moontlike ongelukke kon veroorsaak.
Die meisie het aan die Dobson’s verduidelik dat hulle op pad was om haar af te laai in Soweto nadat hulle by ‘n partytjie was. Sy het glo ook gesê dat hulle teen ‘n spoed gery het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za of skakel ons by 011 693 3671.
Lees ook:
Suster praat oor haar ‘engel-boetie’ se dood
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



