Local newsNewsUpdate

Sterilisasie van diere: Wat jy moet weet

Die nadele van sterilisasie asook kastrasie is minimaal, maar soos by enige operasie is daar risiko's.

Sterilisasie asook kastrasie is ‘n algemene term by honde en katte, maar eienaars is nie altyd vertroud met die voor- en nadele wat dit inhou nie.

Die Herald het onlangs die Randfontein Dierehospitaal besoek waar dokter Johan Naudé sterilisasie bespreek het.

Sterilisasie is die proses om die geslagsorgane van ‘n teef te verwyder en is ‘n redelike groot operasie. Dit hou baie gesondheids- asook gedragsvoordele in.

Kastrasie, waartydens ‘n reun se testes verwyder word, is nie so ‘n groot operasie nie.

Rondloperhonde en -katte kan oordraagbare geslagskanker opdoen en dit na ander honde en katte oordra. Die rondloperdiere wat nie reggemaak is nie, word dikwels deur voertuie raakgery en kan groot onkoste vir hul eienaars meebring. Hulle word dikwels ook doodgery. Honde wat nie reggemaak is nie, is geneig tot aggressie teenoor mekaar en baklei dikwels. Reuns kan ook inflammasie van die prostaat en prostaatkanker opdoen en hulle urineer ook teen alles om dit te merk.

Volgens Johan is ‘n groot probleem onder mannetjiekatte dat hulle rondloop en dan deur voertuie raakgery word.

Voordele van kastrasie vir reuns:
• Gedrag verbeter
• Loop minder rond
• Hulle merk nie
• Testikelkanker word uitgeskakel
• Voorkom heelwat siektes

Wanneer moet ek my hond of kat laat regmaak?
Navorsing het getoon dat honde en katte so vroeg as moontlik reggemaak kan word, verkieslik vier weke nadat hul inenting gedoen is – dit wil sê enige tyd vanaf 18 weke, maar verkieslik voor hulle ses maande bereik. Die nadele van sterilisasie asook kastrasie is minimaal, maar soos by enige operasie is daar risiko’s.

Voordele vir tefies en wyfiekatte:
• Geen kleintjies
• Geen bloeding
• Verminder kanse vir kanker en ander siektes

Doker Johan Naudé het die Herald meer oor sterilisasie vertel.

“Baie mense glo dat ‘n teef een keer op hitte moet gaan voordat sy reggemaak word, maar dit is nie die geval nie,” het Johan gesê.

‘n Teef op hitte skei ‘n hormoon af wat die borste sensitief maak, en dit maak haar baie meer vatbaar vir borskanker. As sy reggemaak word voor sy die eerste keer op hitte gaan, word sekondêre verdragsverandering ook voorkom.

Borskanker en ‘n baarmoederinfeksie kom baie by tewe voor. Baarmoederinfeksie kan dodelik wees as dit nie gou genoeg gediagnoseer word nie. Tewe kan ook baarmoederinfeksie opdoen as voorbehoedmiddels wat vir mense bedoel is, vir hulle gegee word.

Hulle kan ook sukkel om kleintjies te kry en dan moet ‘n keisersnee gedoen word wat baie duur en baie stresvol vir die teef is. Tewe wat nie reggemaak is nie kan ook aggressief teenoor mekaar optree.

Wat is die sosiale aspek van sterilisasie?

Daar is baie honde en katte wat nie eienaars het nie. Die DBV’s se hokke is vol van hulle en om jou troeteldier te laat steriliseer, kan jy oorbevolking voorkom.

Hoeveel kos dit om jou troeteldier te laat steriliseer?
Johan het aan die Herald vertel dat dit by die Randfontein Dierehospitaal ongeveer R1 500 kos, afhangend van die dier se gewig.

Dit is goedkoper in die geval van ‘n reun. Hy het ook vertel dat ‘n keisersnee R3 800 kos en as ‘n teef ‘n geïnfekteerde baarmoeder het, kan dit die eienaar meer as R3 000 kos. Dit is dus baie goedkoper om jou dier te laat steriliseer.

“Ek weet daar is baie behoeftige mense, daarom stel ek voor dat voordat jy ‘n klein hondjie of katjie kry, jy in gedagte moet hou dat jy vir die belangrike dinge in die dier se lewe moet voorsiening maak. Dit sluit inenting en sterilisasie in, wat jou nagenoeg R2 500 gaan kos,” het Johan gesê.

As jy jou troeteldier laat steriliseer het, kan jy verseker wees dat hy/ sy gewoonlik langer gaan leef en ook baie gesonder gaan wees, wat jou baie minder geld uit die sak sal jaag.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button