Local newsNews

Connie Mulder-inwoners kry hul eie ‘babas’

Die 'babas' wat Sylvia maak, wissel van prematuur tot pasgebore.

Op Donderdag, 27 Julie het Sylvia Bush van Little Lovebug Nursery vyf ‘babas’ oorhandig aan inwoners van die Connie Mulder Sentrum.

Die Herald het einde Junie vertel hoe Sylvia materiaal van oorsee bestel, en dan tot in die fynste besonderhede ‘babatjies’ daarvan maak. Die ooreenkoms tussen die poppe en regte babas is ongelooflik. Die ‘babas’ wat Sylvia maak, wissel van prematuur tot pasgebore.

‘n Paar van die Connie Mulder-inwoners met die ‘babas’ wat hulle ‘aangeneem’ het.

Hoewel dié stokperdjie Sylvia se passie is, het dit ‘n liefdestaak geword toe sy besef het dat bepaalde vroue van Connie Mulder Sentrum, wat nie self babas kan hê nie, ‘n behoefte het wat net ‘n baba kan vervul.

Die Connie Mulder-inwoners was spraakloos toe hulle hul eie babatjies ontvang het. Daar is selfs pappas wat die verantwoordelikheid saam met die nuwe mammas moet dra. Die ‘babas’ is boonop elkeen met ‘n geboortesertifikaat asook items wat babatjies gewoonlik nodig het, aan die vroue oorhandig.

Die premature ‘babatjie’ vir wie Mavis die naam Francois gegee het.

Cornel Havinga, die maatskaplike werkster by Connie Mulder Sentrum, het vertel hoeveel vervulling hierdie babas bied vir die vroue wat nog nooit hul eie babas gehad het nie. “Dit help ook met hulle algemene funksionering, en leer hulle verantwoordelikheid.”

Sylvia en Cornel werk saam om die vroue, en mans, te leer om die babas mooi te versorg. Hulle monitor die vroue se optrede teenoor die babas, en maak seker die babas word reg en goed versorg.

Hierdie inwoner spog met haar nuwe ‘baba’.

Cornel het verder vertel van ‘n ernstig depressiewe vrou wat weer positief en gelukkig is sedert sy haar ‘baba’ ontvang het. Mavis Barnes, 60, was ook in die sewende hemel toe sy haar premature seuntjie vir die eerste keer vashou. “Ek wil hom Francois noem,” het sy ernstig gesê.

Cornel en Connie Mulder se bestuur is baie dankbaar teenoor Sylvia vir sy vir hulle doen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button