Local newsNews

Matthysens vier 50 jaar van liefde

Nog 'n egpaar van Randfontein se liefde blom steeds na 50 jaar.

Net een kyk, toe’s die koeël deur die kerk.

So het Awie Matthysen, 70, gesê oor sy geliefde vrou Susan. Hulle het onlangs hul 50e huweliksherdenking gevier.

Susan en Awie van Hillside is albei in Randburg gebore, het daar grootgeword en is daar getroud. Susan was oorspronklik maats met Awie se sussie, maar met Susan en Awie se eerste ontmoeting was albei smoorverlief.

“Ek het haar net een kyk gegee en ek het dadelik geweet dat ek eendag met haar gaan trou,” het Awie gesê.

Die egpaar woon die afgelope 43 jaar in Randfontein en het twee seuns en twee kleinkinders. Hulle beskou geduld, respek vir mekaar, liefde en geloof as die sleutel tot ‘n suksesvolle huwelik.

Die twee geniet dit om saam in die tuin te werk, sosiaal te verkeer, te braai en om by die padkafee iets lekker te eet of drink.

“Ons het saam al baie deurgemaak,” het Susan gesê.

Susan het vertel dat sy twee maal borskanker oorwin het en dat Awie ‘n trippel-hartomleiding en ook twee keer hartversaking oorleef het. Susan het vertel dat die terugslae hulle band net sterker maak.

Awie het laggend vertel dat Susan baie wonderlike eienskappe het. Sy maak baie lekker kos en kan altyd deur ‘n ring getrek word.

“Sy lyk elke dag soos ‘n jong bokkie,” het Awie vertel.

Susan het trots vertel dat sy die beste lewensmaat gekry het en dat Awie haar in alles bystaan.

“Ek sou nie ‘n beter man kon kry nie. Hy is ‘n goeie pa en oupa, en hy bederf my baie,” het Susan vertel.

Alhoewel die paartjie ook hulle nukke het, vul hulle mekaar goed aan.

Awie en Susan wil graag jong paartjies aanmoedig om geduld met mekaar te hê, uit te hou, verdraagsaam te wees en oneindig lief te wees vir mekaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button