G’n uitdaging te groot vir Chanine, 5
Vyfjarige Chanine Ferreira maak opslae in skoonheidwêreld en het 'n sagte plek vir dié wat swaarkry
Chanine Ferreira is nie net beeldskoon nie maar sy het ook ‘n hart van goud.
Chanine is slegs vyf jaar oud en maak reeds opslae in die skoonheidsbedryf.
Sy het onlangs aan die Miss Tiny Joburg Skoonheidskompetisie deelgeneem en met die titel as eerste prinses in die ouderdomsklas van drie tot nege weggestap. Die kompetisie vorm deel van die RoleModels Foundation. Die stigting se missie is om vaardighede onder die jeug te bevorder en na ouer mense om te sien met die oogmerk om hulpbehoewendes te help om selfversorgend te word.
Die kompetisie het van elke deelnemer vereis om sekere doelwitte te bereik en sekere verantwoordelikhede na te kom.
Hulle moes onder meer die volgende insamel:
• R1 000
• boumateriaal
• klere
• niebederfbare produkte
• speelgoed
Chanine was een van 17 deelnemers en het haar uitstekend van haar taak gewyt. Volgens haar ma, Janine, moes Chanine self besighede in die omgewing vir donasies gaan vra.
Die goedere wat tydens die kompetisie ingesamel is, word aangewend om ‘n skool in ‘n landelike gebied te vestig en te onderhou.
“Ek wil graag ander meisies aanmoedig om ook deel te neem aan soortgelyke kompetisies en om ‘n verskil te maak,” het Chanine gesê.
Vir Chanine gaan dit nie oor mooi klere en skoene nie maar om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Vir haar is die kompetisie ‘n groot verantwoordelikheid, omdat ander meisies haar as ‘n voorbeeld beskou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



