Inwoner stig gewilde mamma-groep
Ontmoet Jolandi Dreyer wat in 2013 die bekende sosiale media-groepie 'R'tein mammas' gestig het en tans met 4 300 spog.
Jolandi Dreyer, 35, het ‘n passie om ‘n verskil in ander se lewens te maak en ‘n mamma te wees.
Jolandi het in Randfontein grootgeword maar het na skool besluit om eers ‘n bietjie te toer. In 2013 het sy die bekende groepie op sosiale media, R’tein mammas gestig wat tans 4 300 lede het.
“Ek is self ‘n mamma en die doel van die groepie is om mammas die geleentheid te gee om mekaar by te staan en te help,” het Jolandi gesê.
Nadat sy die mammagroepie gestig het, het sy besluit om al die vroue bymekaar te bring deur ‘n mamma-oggend te hou. Die eerste een het verlede November plaasgevind en 40 vroue het dit bygewoon.
In Maart het sy besluit om weer ‘n soortgelyke oggend te hou en meer as 100 vroue het daarvoor opgedaag. Dit was duidelik ‘n groot sukses en daarom het sy onlangs weer een gehou wat deur 200 vroue bygewoon is.
“Die wins van so ‘n oggend word altyd aan liefdadigheidsorganisasies in R’tein geskenk. Mammas met klein besighede kry ook die geleentheid om hul produkte of dienste ten toon te stel,” het Jolandi gesê.
Jolandi help ook ander organisasies en besighede. Sy het haar eie onderneming met die doel om ander besighede in die gemeenskap te help verbeter en hulle aan te moedig.
“Ek wil graag die gemeenskap en die ekonomie in die gemeenskap opbou. Ek glo die voorbestaan van die dorp berus by die ekonomie,” het Jolandi gesê.
In haar vrye tyd geniet sy haar twee kinders, is lief vir diere, ontferm haar oor ander en is betrokke by gemeenskapsprojekte.
Haar hoofdoel is om ‘n verskil te maak in die gemeenskap en om die wêreld ‘n beter plek te maak.
Sy voel dat daar ‘n groot behoefte is dat mense meer tyd vir mekaar maak. Sy is tans besig om ‘n mamma-oggend vir vroeg volgende jaar te beplan wat beloof om iets uit ‘n boek te wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



