Oud en jonk is die afgelope naweek met smullekker kos en vermaak uit die boonste rakke bederf tydens die jaarlikse Denimfees by Hoërskool Jan Viljoen.
Dit is ‘n inisiatief van die Woord en Lig Christen Kerk en is jaarliks ‘n groot hoogtepunt op die dorpskalender.
Met stalletjies te kies en keur, sang, pom-poms, ‘n baba- en kleuter-, en potjiekoskompetisies, boeresport en springkastele was die dag iets om te onthou.
Op Vrydagaand,15 September kon die bekende sanger, Ampie se talle aanhangers in die skoolsaal na sy optrede gaan kyk en luister. Laerskool Randfontein se koor het saam met hom opgetree.
Die volgende dag het Rappies en Ram se pom-poms die gehoor met hul danspassies en toertjies bekoor. Verskeie plaaslike kunstenaars het ook deur die loop van die dag die gemeenskap op hul tone gehou.
Die hoogtepunt waarna almal uitgesien het was die Glitzy-denimmodeparade. Die seuns en dogters het uitgeblink op die loopplank, waarna die mooiste seuns en dogters in verskeie kategorieë aangewys is.
Volgens pastoor Marthie Erasmus gaan die fondse wat tydens die fees ingesamel is, gebruik word vir die kerk se voedingskema en om ander kostes te dek.
Marthie het vertel dat die dag ‘n groot sukses was en dat hulle reeds hard besig is om volgende jaar se fees te beplan. Die kerk bedank ook almal wat ‘n belangrike rol tydens die fees gespeel het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



